Die ANC se drome vir Suid-Afrika het ontaard in ‘n nagmerrie van distopiese omvang, ook op die gebied van onderwys. In sy boek 1984 skryf George Orwell van ‘n staat waar inwoners bereid is om hul vryheid prys te gee in ruil vir welluidende beloftes. Eindelik realiseer niks.
Oor leë beloftes en die ANC kan veel gesê word. Hiertoe het die minister vir hoër onderwys, dr. Blade Nzimande, mildelik sy deel bygedra. Een daarvan is die belofte dat elke munisipale distrik in die land ‘n instelling vir hoër onderwys sal kry, iets wat duidelik nie gaan realiseer nie.
Die departement van hoër onderwys se begroting van R79 miljard is toegewys vir onder meer beplanning, beleid en strategie. Die VF Plus hoop van harte die minister se toekomsplanne lewer meer op as distopiese nagmerries.
Intussen kry die verlede steeds die skuld vir alles sonder enige fokus op die toekoms. Dit is een van die gevolge van ‘n Karl Marx-geïnspireerde indoktrinasie.
Suid-Afrika se studente is nie vry nie. Die regering hou hulle gevange deur ongeletterdheid en gebruik die verlede om sy mislukkings te verdoesel. Alles vir die ANC se eie korttermyn-politieke gewin.
Die ANC soek antwoorde op Suid-Afrika se probleme in die verkeerde boek. Indien daar nie dringend gefokus word op die verbetering van basiese onderrig nie en kinders jonger as tien nie geleer word om te lees en somme te doen nie, kan die departement net sowel gesluit word.
Die hoë uitvalysfer in hoër- en basiese onderwys wys dat studente uitgelewer is aan omstandighede sonder enige benul oor hoe om hul studies te benader.
Die feit dat die deursnee Suid-Afrikaanse skole met wiskunde sukkel terwyl Afrikaanse skole daarin uitblink, dien hoofsaaklik as bewys van die voordele van moedertaal-onderrig. Engels gaan onderwys nie verbeter nie, maar is tewens die groot rede vir die swak uitkomste. Tog blyk dit of die ANC dit nie wil, of kan verstaan nie.
Terwyl die ANC worstel oor die voordele van moedertaalonderrig, is die golf van die Vierde Industriële Revolusie reeds besig om oor die wêreld te begin spoel. Diegene wat deur geletterdheid die golf sal kan ry, gaan groot hoogtes bereik. Die wat nou sukkel, gaan verder agterbly.
Ongelykheid en werkloosheid kan ingrypend groter raak. Daar gaan ‘n tyd aanbreek wanneer die skuld nie meer op die verlede gepak kan word vir die tekortkominge van die ANC nie.
Kontaknommer: 076 629 6219


