Om te dink dat die minister van basiese onderwys, me. Angie Motshekga, ʼn ommekeer oor taal- en toelatingsbeleid gemaak het (Media 24, 21 Maart 2024), is om ʼn uiters beperkte toegewing na veel meer te laat lyk.
Inderwaarheid word die politieke agenda van die Bela-wetsontwerp nou die duidelikste nóg uitgedruk.
Hierdie omstrede wetsontwerp het in die finale fase van openbare deelname sterk teenstand gekry.
Nadat die Nasionale Vergadering (NV) dit op 26 Oktober 2023 aanvaar het, is dit na die Nasionale Raad van Provinsies (NRP) verwys. Weens die impak op provinsies moes elke provinsie ʼn eie openbare deelnameproses volg en aan die NRP terugvoer gee.
Op Dinsdag 20 Maart het die minister en die direkteur vir provinsiale monitering en dienslewering, mnr. James Ndlebe, voor die NRP se gekose komitee vir onderwys en tegnologie, sport, kuns en kultuur op hierdie deelname gereageer. Hulle moes sterk wal gooi weens van die teenstand wat hulle ervaar het.
Minister Motshekga het die bewering herhaal dat sommige kinders nie toegang tot onderwys in hul omgewing het nie, terwyl ander skole (verwysende na Afrikaanse skole) halfvol is.
Die VF Plus het haar al tevore uitgedaag om Afrikaanse skole wat halfvol is te noem, maar sy versuim steeds om dit te doen.
In sy voorlegging het Ndlebe toegegee dat dit onprakties sou wees om te vereis dat skoolbeheerliggame taal- en toelatingsbeleide moet opstel om binne sestig dae deur die provinsiale departementshoof goedgekeur te word.
Daarom stel hy voor dat die NRP hierdie vereiste verwyder. Nogtans bly die finale gesag by die departementshoof sou daar ʼn dispuut ontstaan. Dit is dus geen ommekeer nie, maar bloot ʼn stukkie voetwerk.
Ndlebe het ook na die Verenigde Nasies (VN) se Internasionale Verbond oor Kulturele- en Sosiale Regte verwys, wat vereis dat alle kinders toegang tot skole moet hê. Dit blyk dat hy dié verdrag uiters selektief lees.
Artikel 1 van die verdrag lui: “Alle volke het die reg tot selfbeskikking. Op sterkte van daardie reg, jaag hulle vryelik hul eie politieke status en ekonomiese, sosiale en kulturele ontwikkeling na.”
Dit is teen daardie agtergrond wat artikel 13 van die verdrag onderwysregte, ook binne kultuurverband, waarborg.
Die SA Skolewet van 1996, wat met die Bela-wetsontwerp gewysig word, het die reg om taal- en toelatingsbeleid te formuleer, met ʼn goeie rede in die hande van skoolbeheerliggame gelaat.
Dit is omdat onderwys ʼn belangrike kulturele aktiwiteit is en omdat die skikking van 1994 nie daarsonder aanvaar sou word nie. Verder waarborg artikel 235 van die Suid-Afrikaanse Grondwet die reg tot selfbeskikking, in ʼn territoriale gebied, of andersins.
Afrikaanse skole tel onder die “andersins”. Afrikaners is regoor die land versprei en hulle skole ook. Die Grondwet skep dus balans tussen die verbod op diskriminasie aan die een kant, teenoor die reg op selfbeskikking aan die ander kant.
Skole met ʼn Afrikaanse karakter val dus binne die Grondwet, mits hulle niemand op grond van ras of taal uitsluit nie.
Afrikaanse skole het reeds ʼn proses gevolg waarvolgens sekere skole ontruim word om te verseker dat oorblywende Afrikaanse skole vol is. Die minister moet dus nie ʼn strooipop opstel nie – dit is ʼn deursigtige vorm van misleiding.
Die minister moet veel groter teenstand verwag as sy voortgaan om hierdie reg eensydig op te skort.