fbpx
Vryheidsfront Plus

Optrede teen Mapisa-Nqakula wys hoe diep verrotting in SANW strek

Die VF Plus verwelkom die optrede van die polisie en die nasionale vervolgingsgesag teen Nosiviwe Mapisa-Nqakula, speaker van die Nasionale Vergadering (NV), weens bewerings dat sy omgekoop is met “geskenke” van weermag-kontrakteurs terwyl sy minister van verdediging was.

Die party hoop die saak word spoedig afgehandel sodat reg en geregtigheid kan geskied.

Dit sal hopelik ook ʼn einde bring aan die ANC se gebruik oor byna drie dekades om die weermag as sy eie spaarvarkie te gebruik en kaders op hoogste vlak te ontplooi.

Dit het begin met die wapenskandaal en later is selfs ʼn nutsmaatskappy soos Denel tot op die been gestroop.

Daarby was daar voortdurende besnoeiings aan die weermagbegroting tot op ʼn vlak waar die land se vermoë om homself te verdedig, ernstig bevraagteken word en sy wapenbedryf feitlik vernietig is.

Die parlement het oor die laaste jare verskeie kere gehoor dat dringende ingrypings nodig is om die land net weer ʼn beperkte verdedigingsvermoë te gee.

Mapisa-Nqakula was in die tyd van die groot agteruitgang en verval minister van verdediging en militêre veterane.

Sy is in 2012 aangestel as minister en is in 2021 vervang deur Thandi Modise ná verkeie skandes soos die Guptas se landing op die lugmagbasis Waterkloof, die gebruik van ʼn lugmagvliegtuig om ANC-lede na Harare te neem en die leemtes in die weermag wat duidelik geblyk het met die onrus in 2021.

In 2021 reeds het fluitjieblasers na vore gekom met bewerings dat Mapisa-Nqakula miljoene rande van weermag-kontrakteurs ontvang het. Daaroor is wyd in die media berig en sy het dit deurgaans ontken.

Hierdie week het die parlement se portefeuljekomitee oor verdediging gehoor dat die departement van verdediging net R800 van sowat R430 miljoen teruggekry het wat vrugteloos verkwis is.

Daarby het die departement ongemagtigde uitgawes van R2,6 miljard wat tot R5,6 miljard teen die einde van die boekjaar kan styg. Onreëlmatige uitgawes beloop R15,98 miljard waarvan net R76 000 verhaal is.

Dit maak dit duidelik dat die departement onder minister Modise soos onder haar voorganger bloot voortgegaan het om belastinggeld op ʼn reuse skaal te vermors.

Daar is geen manier hoe minister Modise kan aanbly as minister terwyl die departement onder haar beheer totaal in duie stort nie. Onder Mapisa-Nqakula en nou Modise, is ʼn trotse weermag en wapenbedryf vernietig.

Om te hoop dat die ANC iets daaraan sal of kan doen, sal waarskynlik beskaam. Die land se probleme kan nog net opgelos word deur so gou moontlik van die ANC by die stembus ontslae te raak.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.