fbpx
Vryheidsfront Plus

Waterkrisis wys hoe ver ANC van realiteit verwyder is

(Parlementsdebat: Konsepwetsontwerp op die Suid-Afrikaanse Nasionale Waterhulpbron-infrastruktuuragentskap Bpk.)

Alles waaraan die ANC raak, is ʼn totale mislukking deurspek van korrupsie en onbevoegdheid.

Daarom is dit uiters kommerwekkend om te sien dat die regering beplan om steeds groter beheer uit te oefen oor die beskikbaarheid en lewering van skoon water deur die stigting van ‘n nasionale waterhulpbron-infrastruktuuragentskap.

Die agentskap sal as entiteit onder staatsbeheer funksioneer met die doel om onder meer adviesdienste te administreer, die finansiering te behartig en toe te sien dat waterinfrastruktuur in stand gehou word.

Die VF Plus kan nou reeds voorspel dat dit onder die ANC tot mislukking gedoem is.

Teen die agtergrond van die ANC se onbevoegdheid, is daar vele wesenlike redes vir die waterkrisis. Kundiges op die gebied van waterbestuur het grootliks weens regstellende aksie (RA) hul heil elders gaan soek. Kaders sonder die nodige ervaring en kennis het oorgeneem.

In die meeste munisipaliteite is daar geen ervare personeel meer in diens nie en kontrakteurs word teen buitensporige bedrae aangestel om werk te doen terwyl hulle die stelsel nie behoorlik verstaan nie.

Dit is skokkend om te sien hoe vinnig die situasie waar klein dorpies nie water gehad het nie, oorgespoel het na die stede. In Johannesburg was duisende mense onlangs vir twee weke sonder water omdat ʼn amptenaar nie ʼn klep oopgedraai het nie.

Die ironie is dat daar in die meeste gevalle wel water beskikbaar is, maar dat dit weens onbevoegdheid en vervalle infrastruktuur nie by die publiek uitkom nie.

Waar water wel gelewer word, het die gehalte só verswak dat dit nie meer drinkbaar is nie.

In Tshwane gaan sowat 35% en in Johannesburg 50% water verlore weens vervalle infrastruktuur. Die kundigheid by Rand Water wat verantwoordelik is vir die suiweringswerke, het drasties versleg.

Om die situasie te vererger, betaal munisipaliteit toenemend nie verskaffers se rekeninge nie. Dit lei daartoe dat toevoer gesny of verminder word en diegene wat wel hul rekeninge getrou betaal, is die groot verloorders.

Miljoene rande is oor die laaste drie dekades begroot vir die instandhouding, opgradering en oprig van nuwe infrastruktuur. Die geld word bloot wanaangewend of gesteel en al wat gesien word, is agteruitgang en verval.

Die regering het slegs een nuwe dam die afgelope 30 jaar gebou. Agt jaar gelede is begin om die Clanwilliamdam se wal te verhoog, maar die werk sloer steeds.

Soos met die kragprobleem, sal die privaat sektor betrek moet word om planne rondom die waterkrisis te beraam.

Indien daar nie onmiddellik opgetree word nie, gaan mense binne die afsienbare toekoms in groot getalle van honger en dors begin sterf. Om te wag dat die ANC die probleem oplos, sal fataal wees.

Daar is net een werklike oplossing: Dit is om die land van die ANC te reinig. Hierdie geleentheid doen hom voor op 29 Mei vanjaar.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.