Die ANC-regering se rasbehepte ideologiese malheid wat aanleiding gee tot blatante diskriminerende optrede teen gewone Suid-Afrikaners, kelder ekonomiese groei, werkskepping en vooruitgang in die land.
Dit word opnuut bevestig in ‘n onlangse ‘n skrywe van Dischem se hoof uitvoerende beampte, mnr. Ivan Saltzman, aan die maatskappy se senior bestuurslede, waarin Dischem se transformasieplan in geen onsekere taal uiteengesit word nie.
In die skrywe word blatante diskriminasie teen wit personeel en aansoekers voorgeskryf om aan gelyke indiensname- en swart ekonomiese bemagtiging (SEB)-wetgewing te voldoen.
Mnr. Saltzman identifiseer die feit dat daar in sekere gevalle waar geen geskikte swart kandidate vir ‘n betrokke pos aansoek doen nie en ‘n geskikte wit kandidaat dan aangestel word as ‘n praktyk wat “ongewens” is.
Privaatsektorwerkgewers word deur middel van wetgewing gedwing om onrealistiese en diskriminerende transformasieteikens te haal, met reuse boetes as straf wanneer dit nie gebeur nie.
Die ANC-regering het in die 28 jaar sedert hy aan bewind gekom het, slegs daarin geslaag om die ekonomie van die land af te breek en werkloosheid tot rekordhoogtes te laat styg.
Wetgewing wat kosmetiese transformasieteikens daarstel, word telkens gepromulgeer en versterk, maar dit spreek nie kernprobleme soos werkloosheid en swak ekonomiese groei aan nie.
Hoewel die skrywe van mnr. Saltzman na bewering teruggetrek is, is dit uiters kommerwekkend dat privaatsektorwerkgewers gedwing word om tot sulke drastiese stappe oor te gaan om boetes te vermy.
Die VF Plus veroordeel ook die wyse waarop Dischem met hul personeel en aansoekers om poste omgaan.
Die privaatsektor word aan bande gelê deur striemende arbeidswetgewing en oorregulering deur ‘n onbevoegde en al hoe meer irrelevante ideologie-gedrewe regering.
Dié sektor moet eerder toegelaat word om aanstellings op grond van meriete te doen, genoeg werk te skep en ekonomiese groei te bevorder.