Die VF Plus staan verstom dat pres. Cyril Ramaphosa nou eers, ná bykans ‘n dekade as adjunk-president en daarna president van Suid-Afrika, bereid is om die gebreke en ongerymdhede in die ANC te erken.
Die president erken nou dat die land se inwoners onder ongekende wanbestuur, patronaatskap of kader-ontplooiing, onbevoegdheid en die letterlike kaping van munisipaliteite deur ANC-faksiegekoppelde misdadigers ly.
Die president het gister tydens ‘n burgemeestersbyeenkoms van die Suid-Afrikaanse Plaaslike Regeringsvereniging (Salga) hierdie en ander probleme wat stabiliteit en ekonomiese groei bedreig, uitgelig.
Die VF Plus het hierdie kwessies al male sonder tal oor ‘n lang tydperk op alle regeringsvlakke uitgelig en bespreek.
Standpunte teen dié vergrype is egter telkens deur die ANC en selfs ander opposisiepartye as rassistiese argumente verwerp.
Die VF Plus is die enigste party wat deurlopend by sy standpunte oor regstellende aksie (RA), ANC- kaderontplooiing en -wanbestuur gehou het.
Dit is gedoen ten spyte van ander partye se weifeling om die kwessies te konfronteer weens die vrees om as polities-inkorrek gebrandmerk te word.
Die president se uitspraak dat dit “verstommend is om te hoor dat daar na byna drie dekades steeds raadslede is wat nie kan lees of skryf nie”, is ewe verstommend.
Dit is ‘n duidelike aanduiding van die groot gaping wat tussen die Suid-Afrikaanse werklikheid en die ANC-regering ontstaan het.
‘n Groot leemte in die president se toespraak gister was die feit dat hy geen aanduiding gegee het wat hy aan die probleme gaan doen nie.
Hy het geen daadwerklike stappe aangekondig of gesê hoe daar teen die skuldige ANC-kaders in munisipaliteite opgetree gan word nie.
‘n Daadwerklike ingryping deur al die beskikbare wetstoepassingsagentskappe waaroor die staat beskik, is ál manier om misdadigheid en ANC-vergrype in plaaslike regering stop te sit.
Die VF Plus sal voortgaan om hierdie ANC-vergrype te belig en druk toe te pas vir doeltreffende ingryping tot voordeel van al Suid-Afrika se inwoners.
Suid-Afrikaners verdien beter as die ANC.