Die ANC-president, mnr. Cyril Ramaphosa, se oorblemktoning van eenheid in die ANC, asook sy huldeblyke aan gewese helde van die vryheidstryd, is ‘n aanduiding hoe diep die verdeeldheid en faksiegevegte in die ANC is, sê dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus.
Dr. Groenewald sê dit is duidelik dat alles moontlik gedoen word om eenheid te verseker om sodoende die ANC te red vir die 2019-verkiesing.
Hy sê dit is duidelik dat die ANC se NUK nie maklik ‘n besluit sal neem om pres. Jacob Zuma direk te herroep nie, maar dat alles moontlik gedoen sal word om hom te oorreed om vrywillig te bedank as president van Suid-Afrika.
“Mnr. Ramaphosa se verwysing na die ekonomie en sy opmerkings dat wittes te veel eienaarskap het en dat dit die rede is waarom die ekonomie nie groei nie, is dieselfde retoriek as dié van pres. Zuma oor wit monopoliekapitaal wat die rede is vir swak ekonomiese groei.
"Hy sal egter daareen moet waak om nie soos pres. Zuma al die skuld op wittes te plaas vir die swak prestasie van die ANC nie.
“Mnr. Ramaphosa het wel verskeie probleemareas van Suid-Afrika korrek geïdentifiseer soos korrupsie, staatskaping, swak dienslewering, swak ekonomiese groei, veiligheid en sekuritiet, opleiding van die jeug, en werkskepping.
“Om dit te prioritiseer, is die regte benadering, maar net die praktyk sal toon of mnr. Ramaphosa wel op hierdie gebiede werkbare resultase kan lewer.
“Die kwessie van grondhervorming, en die beginsel van onteiening sonder vergoeding, skep steeds groot ontsteltenis, en die VF Plus versoek mnr. Ramaphosa om die onderneming van die ANC se Top Ses, in ‘n dokument waarin die detail hieroor uitgespel word, so spoedig moontlik beskikbaar te stel sodat almal kan weet wat die ANC se planne hieroor is.
“Die VF Plus sal hierdie sake in die parlement aanspreek om antwoorde van die ANC te kry,” sê dr. Groenewald.
Kontaknommers: 083 627 4397 / 065 801 7216


