Pres. Cyril Ramaphosa se getuienis voor die Zondo-kommissie oor kaderontplooiing, bevestig die deurlopende standpunt van die VF Plus dat regstellende aksie (RA) nie aanvaarbaar is nie en dat dit afgeskaf moet word.
RA is nie gegrond op meriete nie en die enigste oplossing om die staatsdiens reg te ruk, is om meriete die enigste kriterium te maak met aanstellings. Die beste mense moet aangestel word om die werk te doen, ongeag hul velkleur.
Wat Bosasa aanbetref en die feit dat die ANC ’n verkiesingskantoor in dié maatskappy se hoofkantoor gehad het, is dit betekenisloos vir pres. Ramaphosa om nou te sê dat dit verkeerd was en nie moes gebeur het nie. Dit is leë woorde.
Wat die ANC moet doen, is om geld wat Bosasa aan die ANC geskenk het, terug te betaal. Dit sou wys dat pres. Ramaphosa en die ANC waarlik berou het en dit nie weer sal toelaat nie. Jammer alleen is niksseggend.
Dit help ook nie om nou die Wet op Partypolitieke Befondsing voor te hou as voorsorgmaatreël vir deursigtigheid nie. Hierdie wysiging op die wet is onlangs eers gedoen en grootliks as inisiatief van die VF Plus.
Korrupsie ontstaan nie bloot weens kaderontplooiing nie. Swart ekonomiese bemagtiging (SEB) is instrumenteel daarin om geleenthede vir korrupsie te skep deur tenderbedrog.
Staatsondernemings word deel gemaak hiervan deur opgeblase tenders te aanvaar onder die dekmantel van die bevordering van SEB.
Die Zondo-kommissie behoort die klem te laat val op die toepassing van SEB waar talle voorbeelde van hierdie soort stroping is soos Eskom se aankoop van buisligte teen R900 elk wat skaars R63 sou kos by ’n ysterware-winkel.
’n Liter melk is aangekoop teen R56, besems teen R280 000 elk en vele meer. Dit is blatante misbruik van SEB en is openlike bedrog onder die dekmantel daarvan.
Die Zondo-kommissie sal harde vrae hieroor moet vra indien hy ernstig is om korrupsie te bestry.