Die kredietgraderingsagentskap Moody’s het die Tshwane-metroraad se kredietgradering verlaag van Aa3.za na Baa2.za.
Die VF Plus in die Tshwane-metroraad is van mening dat die afgradering toegeskryf kan word aan die destabiliteit wat die ANC se Gauteng-administrateurs veroorsaak het.
Die Tshwane-metro was verlede jaar vir bykans agt maande deur die Gauteng-provinsie onder administrasie geplaas. Verskeie howe het die bevel as onregmatig beskou en die koalisie-regering is herstel, maar die skade wat aangerig is, sal vir etlike jare deel van die metro se uitdagings vorm.
Die koalisie kon daarin slaag om voor die administrasiebevel die bankbalans tot ‘n stewige R3 miljard te laat groei, in kontras met die administrateur wat die bankbalans tot R847 miljoen in Junie 2020 laat daal het.
Likiditeit is een van die groot probleme wat deur Moody’s geïdentifiseer is, en wat direk tot die afgradering gelei het.
Moody’s het in sy vorige analise melding daarvan gemaak dat die metro onder die koalisie goed gevaar het, en dit word bevestig weens die feit dat die kredietgradering in die tydperk telkens verhoog is.
Covid-19 het uit die aard van die saak ‘n negatiewe rol gespeel, maar die koers waarteen die finansiële situasie versleg het, kan nie alleen voor die pandemie se deur gelê word nie. Dit kan toegeskryf word aan die administrateurs wat besluite geneem het wat nie in belang van die metro was nie.
Daar is strukturele probleme binne die metro wat nog reggestel moet word voordat die metro sy draaipunt kan bereik, soos die invorderingskoers, kaderontplooiing en sistemiese korrupsie.
Die lae invordering van debiteure blyk duidelik uit die stad se debiteureboek (R17 miljard) wat aanhou groei, en die skuldiges sluit in raadslede, amptenare, staatsdepartemente en ambassades.
Die VF Plus beplan om nie net op die korttermyn nie, maar ook op die langtermyn werkbare oplossings vir die metro se probleme voor te stel en te laat implementeer.
Navrae: 072 815 4053