(Debat in parlement oor krisis by die SAUK)
Daar is weinig verskil tussen die sinkende SAUK-skip en die ander staatsinstellings wat ook sonder hoop ronddobber weens die wanbestuur van die leierskap aan boord en die regering.
Die redes is ooglopend. In ‘n mediaberig (Bussiness Live van November verlede jaar) sê die minister van kommunikasie Stella Ndabeni-Abrahams, die uitvoerende bestuur en raadslede van die uitsaaier “verdien” die R42,5 miljoen wat hulle toe jaarliks ontvang het, en “is dit werd”.
Die gebruik om hierdie buitensporige salarisse te betaal, het ook nie verlede jaar begin nie. In 2015/16 het die toenmalige hoof-operasionele bestuurder van die SAUK, Hlaudi Motsoeneng, ‘n salaris van R4,197 miljoen ontvang terwyl die uitsaaier daardie jaar ‘n verlies van R411 miljoen getoon het.
Die president van die land in die daardie stadium, het R2,75 miljoen verdien. Motsoeneng het toe reeds byna dubbel meer verdien as die president.
Die huidige president, Cyril Ramaphosa, se salaris is tans R3,1 miljoen, steeds heelwat minder as wat Motsoeneng en van sy senior kollegas vyf jaar gelede verdien het.
Die topbestuur van die SAUK, bestaande uit agt mense, se salarisse beloop tans R31,278 miljoen, ‘n gemiddeld van R3,9 miljoen per jaar. Die minister moet aan die belastingbetalers van Suid-Afrika verduidelik hoe dit moontlik is dat die hoof-operasionele bestuurder amper dubbel meer werd is as die president van die land.
Die VF Plus het nog altyd gewaarsku oor die buitensporige salarisse van nie net die SAUK se top-bestuur nie, maar by al die staatsinstellings. Dit is ‘n voorbeeld van die soustrein.
Nou het dit egter die punt bereik waar die prys vir die spandabelrigheid betaal word en daar moet ontslae geraak word van diegene wat die skip se enjinkamer aan die gang moet hou, soos nuuslesers, -skrywers en tegnici.
Raak eerder ontslae van die top-bestuur en die uitvoerende gesag en verminder hul salarisse. Indien dit nie gedoen word nie, sal die SAUK-skip nie gered kan word.