Suid-Afrika gaan gebuk onder vaardigheidstekorte te midde van werkloosheid. Met ander woorde, mense is werkloos, nie net omdat daar nie poste is nie, maar ook omdat hulle nie oor die toepaslike vaardighede beskik nie. Dit dui ooglopend op 'n gebrek in die Suid-Afrikaanse onderwysstelsel, wat die minister vir minister vir basiese onderwys, me. Angie Motshekga, met nuwe voorstelle wil regstel.
Tans volg alle Suid-Afrikaanse leerders dieselfde leerplan sonder enige vakkeuses tot aan die einde van graad 9 en verwerf dan die sogenaamde Algemene Onderwys- en Opleidingsertifikaat. Daarna kan hulle kies om die Verdere Onderwys- en Opleidingsfase op skool of aan kolleges te betree, of die beroepslewe te verken. Die nuwe voorstel skep twee nuwe moontlikhede:
• Kurrikulum en Assesseringbeleidsverklarings (CAPS volgens die Engelse afkorting) vir dertien nuwe beroepsgerigte vakke is ontwikkel. Drie van hierdie vakke kan benewens twee tale, Wiskunde en Lewensoriëntering gekies word;
• CAPS vir ses en twintig nuwe beroepsrigtings is ontwikkel. Dit sal behels dat leerders die twee tale en Wiskunde neem, sowel as 'n vak wat Lewensvaardighede genoem word en wat elemente van die bestaande vakke (Ekonomiese – en Bestuurswetenskappe, Sosiale Wetenskappe, Natuurwetenskappe) bevat. Dit sal bykans een helfte van die skoolweek omvat, terwyl die leerder dan in een beroepsrigting spesialiseer en die ander helfte daaraan spandeer.
Die voorgestelde nuwe kwalifikasie vervang in werklikheid die sogenaamde Senior Fase wat van graad 7 tot 9 strek. Dit word egter as 'n vierjaar-kwalifikasie aangebied, met 26 voorgestelde beroepsrigtings.
'n Wye verskeidenheid beroepe, van bou- en ingenieursstudies, tot kleinhandel, skoonheid en haarkappery word voorgestel. Die CAPS sit volledig uiteen oor watter toerusting onderriginstansies sal moet beskik en watter kennis en ervaring van onderwysers/aanbieders verwag sal word.
Vir die 13 nuwe vakke word kommentaar vir 30 dae vanaf 11 November gevra en vir die nuwe kwalifikasie vir 21 dae vanaf 27 November. In albei gevalle is die keerdatum 18 Desember. Wanneer 'n minister kommentaar gedurende Desember vra, wonder mens onwillekeurig of hulle kommentaar wil hê, of juis nie.
Die VF Plus beskou hierdie as 'n potensieel positiewe ontwikkeling. Die party sal van die geleentheid gebruik maak om kommentaar te lewer en versoek alle instansies binne onderwys en die onderskeie bedrywe om dieselfde te doen. Dit is egter 'n groot taak, aangesien die dokumente omvangryk is.