Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

R4,6 miljoen se “heksejag” teen Ekurhuleni-polisiehoof ’n duur les

Die dissiplinêre proses teen hoof van die Ekurhuleni-metropolisie, Isaac Mapiyeye, het die metro meer as R4,6 miljoen gekos en dit net om hom ná byna 22 maande op al die aanklagte onskuldig te bevind.

Dit is ’n duur les vir belastingbetalers en bevestig die indruk van ’n heksejag teen ’n senior amptenaar. Dit is ook geld wat eerder aangewend kon word vir dienslewering, infrastruktuur en openbare veiligheid.

Mapiyeye is in September 2024 op voorkomende skorsing geplaas weens aantygings van seksuele teistering en die misbruik van bestuursgesag. Die voorsittende beampte het hom nou op al die klagte onskuldig bevind.

Die VF Plus het deurentyd in die raad gewaarsku dat hierdie saak toenemend soos ’n heksejag lyk teen ’n amptenaar wat nie gemanipuleer kon word nie.

Die uiteindelike uitslag laat ernstige vrae ontstaan oor die bestuur van die proses, die tydsduur daarvan en die enorme koste wat inwoners moes dra.

Ernstige aantygings moet altyd deeglik ondersoek word en slagoffers moet beskerm word. Net so het elke persoon die reg op ’n regverdige, onafhanklike en spoedige proses. Wanneer dissiplinêre sake vir jare voortsleep en miljoene rand kos, is dit die belastingbetalers wat uiteindelik die prys betaal.

Hierdie saak beklemtoon die noodsaaklikheid dat die metro dissiplinêre prosesse professioneel, sonder politieke inmenging en binne redelike tydraamwerke moet bestuur.

Vertroue word nie gebou deur duur en uitgerekte interne gevegte nie, maar deur billike, deursigtige en doeltreffende bestuur.

Die VF Plus sal voortgaan om goeie regering, verantwoordbaarheid en die verantwoordelike besteding van openbare fondse te bevorder.

Belastingbetalers verdien beter as miljoene rand wat aan langdurige interne konflikte bestee word terwyl dienslewering agteruitgaan.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.