Die aanhoudende mislukkings met die herstelwerk aan die R40-pad tussen Hazyview en Witrivier, wat met die vloede van Februarie 2023 beskadig is, dwing motoriste om weer van ‘n gevaarlike slaggat-gevulde ompad gebruik te maak.
Die herstelprojek, wat in Junie 2024 begin het, is nog nie voltooi nie en die pad het in Januarie 2026 verdere skade opgedoen toe swaar reën grondverskuiwings en skade aan stormwaterpype veroorsaak het.
Die VF Plus se parlementslid in die nasionale raad van provinsies (NRP), Tammy Breedt, het reeds vrae gerig aan die minister van vervoer, Barbara Creecy, oor die herstelwerk aan die R40.
Die minister het in haar antwoord bevestig dat Sanral die bykomende herstelwerk self sal uitvoer teen ’n geskatte ekstra koste van R1 miljoen.
Dit verhoog die totale projekkoste tot R34 687 661 (BTW uitgesluit). Hiervan is reeds R19 609 966 (BTW uitgesluit) uitbetaal, met ’n retensiebedrag van R1 684 883.
Die VF Plus is veral bekommerd oor die tydsraamwerk van die herstelwerk. Die bykomende herstelwerk sal sowat ses maande duur, terwyl die algehele projek nou eers teen 12 Desember 2026 voltooi sal wees. Dit beteken maande lange ontwrigting vir duisende padgebruikers, met ernstige gevolge vir veiligheid en verkeersvloei tussen Hazyview en Witrivier.
Die kontrakteur, White Hazy Building Construction, bly verantwoordelik vir die oorblywende werk, ten spyte van vertragings weens protesaksies, terreinprobleme en boetes sedert Junie 2025.
Die VF Plus eis duidelikheid oor waarom die pad so kwesbaar bly, en of die tenderproses vir die kontrakteur se aanstelling wel deursigtig en mededingend was. Verdere vrae sal aan minister Creecy gerig word oor die tenderproses, die oorblywende werk en die gebrek aan vordering, ten spyte van die groot bedrae wat reeds uitbetaal is.
Die VF Plus stel voor dat ’n onafhanklike ouditeur of ingenieur die projek onmiddellik ondersoek om die oorsake van die herhaalde mislukkings te bepaal, insluitend moontlike swak vakmanskap of ontwerpfoute.
Die weer kan nie as enigste verskoning dien nie. Belastingbetalers se geld mag nie vermors word nie.


