Nadat die VF Plus in Mpumalanga ’n klag by die Openbare Beskermer (OB) teen die Govan Mbeki- (Bethal, Charl Cilliers, Embalenhle, Evander, Kinross, Leandra, Secunda, Trichardt), Lekwa- (Morgenzon, Standerton) en Dipaliseng (Balfour, Greylingstad, Grootvlei) -plaaslike munisipaliteite vir aanhoudende kragonderbrekings weens uitstaande betalings aan Eskom ingedien het, het die Govan Mbeki-munisipaliteit se woordvoerder, mnr. Benzi Soko, die rassekaart weereens gespeel en apartheid vir die kragprobleme verkwalik.
Die VF Plus was deel van ‘n provinsiale wetgewer-vergadering toe verteenwoordigers van Eskom bevestig het dat krag na die Govan Mbeki-munisipaliteit verminder is weens wanbetaling.
Om apartheid steeds die skuld te gee vir al die probleme waar die ANC die afgelope 26-jaar aan die bewind is én verantwoordelik is vir betalings aan Eskom, is onaanvaarbaar.
So lank as wat instellings soos dié munisipaliteit die skuld vir sy eie wanbestuur op apartheid probeer afskuif, sal die land se probleme nie opgelos word nie.
Die ANC se traagheid om die werklike oorsake van Bethal en ander munisipaliteite se probleme aan te spreek, beklemtoon sy vrees dat hy onwettige elektrisiteitsverbruikers en wanbetalers se stemme sal verloor indien daar teen hulle opgetree word.
Die Govan Mbeki-munisipaliteit word tans deur die OB en die department van samewerkende regering en tradisionele aangeleenthede (Cogta) ondersoek weens die aanhoudende kragonderbrekings.
Die VF Plus wag nog vir die uitslae van hierdie ondersoek, maar intussen word ‘n groot onreg gedoen aan die betalende verbruikers van Govan Mbeki.
Navrae: 082 464 4280 / 076 687 2830