fbpx
Vryheidsfront Plus

Qedani Mahlangu moet in hegtenis geneem word oor Esidimeni

Die VF Plus doen 'n beroep op die owerhede in Gauteng om die voormalige LUR van Gesondheid, Qedani Mahlangu, vandag nog in hegtenis te neem vir die afsterwe van 143 psigiatriese pasiënte wat tydens die Esidimeni-slagting plaasgevind het, sê Philip van Staden, VF Plus lid van die Gautengse wetgewer.

Van Staden sê die VF Plus is van mening dat Mahlangu gaan terugkeer na Londen en dat sy weer met moeite teruggebring sal moet word na Suid-Afrika om verantwoordelikheid te aanvaar vir haar wandade.

“Mahlangu moet teregstaan op aanklagte van moord, strafbare manslag, ontvoering en bedrog. Haar getuienis die afgelope week tydens die arbitrasieverhoor was gebrekkig en onvolledig en sy het gewis nie oop kaarte gespeel nie.

“Haar houding en antwoorde het die naasbestaandes duidelik ontstel en daar is op haar geskree dat sy nie die waarheid praat nie. Mahlangu het gedurig probeer om die skuld op ander persone te plaas en is nie bereid om enige verantwoordelikheid vir die gebeure te aanvaar nie.

“Mahlangu het die afgelope Maandag onvoorbereid by die verhoor opgedaag en nie eens die moeite gedoen om die klagtes teen haar te bestudeer nie. Dit het getuig van haar minagting vir die ondersoek en die naasbestaandes.

"Sy het die naasbestaandes wel om verskoning gevra, maar dit is nie goed genoeg nie. As politieke hoof van die departement was dit haar werk en plig om te weet wat in die departement aangaan. Sy sal daarom verantwoordelikheid gehou moet word vir die gebeure en moet in hegtenis geneem word voordat sy weer die land verlaat,” sê Van Staden.

Navrae: 084 015 4722

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.