Die ANC en EFF se gepoogde ontseteling van die koalisieregering in Pretoria/Tshwane deur die verwydering van die burgemeester, Solly Msimanga, het gefaal.
Die partye in die koalisieregering, die VF Plus, DA, ACDP en Cope, het vandag in eenheid die aanslae van die nuwe korrupsie-alliansie tussen die ANC en die EFF effektief afgeweer en sodoende ‘n sterk boodskap uitgestuur oor soortgelyke opportunisme in die toekoms.
Die nuwe korrupsie-alliansie tussen die ANC en die EFF blyk gebou te wees op suiwer opportunisme tussen die twee partye met die tipe vertroue wat net tussen skurke aangetref sal word, naamlik elkeen vir homself.
Die aanduidings dat die mosies van die korrupsie-koalisie nie sou slaag nie, was reeds duidelik toe die EFF se mosie op ‘n tegniese punt uitgeknikker is. Dit wil voorkom asof die mosie doelbewus op só ‘n wyse opgestel is dat dit nie sou voldoen aan die reëls van die raad nie en dus deur die speaker verwerp sou word.
Dit is ‘n aanduiding dat die EFF nooit ernstig was om die mosie te laat slaag nie, en bloot ‘n skoot wou skiet oor die boeg van die koalisieregering. Sy korrupsie-koalisievennoot, die ANC, is sodoende in die steek gelaat.
Dit is beaam toe die EFF uit die raad geloop het toe hul mosie nie aanvaar is nie, welwetende dat die ANC steeds nog ‘n mosie het tot dieselfde effek.
Die EFF het dus opportunisties opgetree en selfs die ANC in die steek gelaat. Die ANC het toe geen keuse gehad as om self die raad te verlaat nie. Dit wil voorkom asof hierdie optrede van die EFF die ANC heeltemal onkant betrap het en dit behoort ‘n les vir die ANC te wees om die EFF nie weer te vertrou nie.
Hierdie wankelrige samewerkingspoging tussen die EFF en die ANC is klaarblyklik ‘n poging om die korrupte optrede van veral die stadsbestuurder te probeer toesmeer en dit blyk dat nie een van die twee partye respek het vir reg en geregtigheid nie.
Die koalisieregering staan sterker as ooit en is gereed om enige toekomstige aanvalle af te weer. Die VF Plus is oortuig daarvan dat die koalisie-bloudruk in dié metro ook op provinsiale vlak in Gauteng ná die 2019-verkiesing sal werk om vir ‘n beter regering in die provinsie te sorg.
Die VF Plus sal verseker deel wees van so ‘n opposisie-koalisie omdat hy die vierde grootste party in Gauteng is met alle aanduidings dat die party sterk groei in dié provinsie.
Die EFF is tans die derde grootste party in Gauteng. Die VF se mikpunt is daarom om groter te groei as die EFF sodat hy dié party as ‘n faktor in Gauteng kan uitskakel.
Kontaknommers: 082 391 3117 / 065 801 7216


