Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

President moet nou begin optree teen korruptes

Die direktoraat vir prioriteitsmisdaadondersoeke (die Valke) se ondersoek na die minister in die presidensie, Khumbudzo Ntshavheni, se beweerde betrokkenheid by tenderkorrupsie moet ernstig opgeneem word. Sy moet summier geskors word hangende die finale uitslag van die saak.

Dit bly verstommend dat korrupsie herhaaldelik na vore kom in die omgewing van president Cyril Ramaphosa en sekere senior lede van sy kabinet sonder dat daar ooit enige daadwerklike optrede gesien word.

Dit blyk dat daar binne die magskringe van die ANC geen werklike behoefte is om korrupsie uit te roei nie, maar eerder om persone wat daarby betrek word, te beskerm.

Die Valke se ondersoek het gehandel om die beweerde betrokkenheid van minister Ntshavheni as destydse munisipale bestuurder van die Ba-Phalaborwa-plaaslike munisipaliteit rondom tenderkorrupsie van R2,5 miljoen.

Die ondersoek is gelas nadat regter Gerrit Muller van die hooggeregshof in Polokwane in 2020 die gebeure rondom die tender “afstootlik en verwoestend” genoem en gevra het dat dit ondersoek word.

Hierbenewens het regter Raymond Zondo die minister in sy verslag oor staatskaping in 2022 betrek by ‘n doelbewuste poging om die Guptas te help om Denel te Kaap.

Sy was in 2015 direksielid by Denel en het op ‘n sogenaamde risiko-komitee gedien wat aanbeveel het dat drie personeellede geskors word. Volgens regter Zondo is die persone geskors om ‘n “obstruksie te verwyder wat in die pad gestaan het van die Guptas se kaping van Denel”.

Minister Ntshavheni het dit ten sterkste ontken en pres. Ramaphosa het haar later aangestel in die belangrike en senior pos as minister in die presidensie.

Wat die jongste beweringe aanbetref, mag die nasionale vervolgingsgesag (NVG) nie voete sleep tot die saak in die agtergrond verdwyn nie. Daar moet dadelik met vervolging voortgegaan word.

Pres. Ramaphosa kan ook nie soos met die vorige minister van justisie, Thembi Simelane, haar net na ‘n ander pos skuif nie.

Nadat ernstige beweringe van korrupsie rondom Simelane verlede jaar in die media na vore gekom het, het president Ramaphosa haar bloot herontplooi as minister van menslike nedersettings.

Die president is nou deel van ‘n regering van nasionale eenheid en hy sal moet wys dat hy sy beloftes om korrupsie te bekamp ernstig opneem deur die minister summier te skors hangende die uitslag van die saak.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.