Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Vrystaatse munisipaliteite verloor meer as R3 miljard se water in vyf jaar

Dit is skandelik dat minstens R3 miljard se skoon water die afgelope vyf jaar weens lekkasies en onwettige koppelings in Vrystaatse munisipaliteite gemors is.

Die LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta), Saki Mokoena, het in antwoord op ‘n vraag van die VF Plus in die Vrystaatse wetgewer die skokkende syfers onthul.

Talle Vrystaatse dorpe was gedurende die feestyd sonder water weens infrastruktuur wat in die afgelope 30 jaar van ANC-bewind nie in stand gehou of opgeknap is nie.

Uit die LUR se antwoord is dit duidelik dat die ANC nie daartoe in staat is om infrastruktuur in stand te hou nie.

Inwoners van die Vrystaat is die direkte slagoffers van die regerende party se mislukkings.

Indien die waterverliese in die Vrystaat so voortgaan, kan die provinsie in die afsienbare toekoms ernstige maatskaplike onstabiliteit te wagte wees

Die VF Plus vind dit vreemd dat LUR se antwoord nie die Mangaung-metro se waterverliese insluit nie en sal in ‘n opvolgvraag daarop aandring dat die metro se syfers ook bekendgemaak moet word.

Volgens VF Plus-berekeninge kan Mangaung se verliese soveel as R1,6 miljard in dié tydperk beloop.

Die ander groot sondebok met waterverliese is Matjhabeng, wat in die vyf jaar meer as R1,8 miljard se skoon water verloor het.

Beide munisipaliteite kon met die vermorsing elkeen ten minste een splinternuwe watersuiweringsaanleg gebou het en boonop hul astronomiese skuld aan die Vaal Sentraal-waterraad begin afbetaal het.

Sommige munisipaliteite het ook vir sekere jare nie finansiële state, waar verliese gemeld word, ingedien nie. Dit beteken dat die verliese aansienlik meer sal wees. (Sien aangeheg volledige antwoord van die LUR vir verliese van munisipaliteite)

In ‘n water-arm provinsie is dit eenvoudig misdadig dat munisipaliteite soveel water vermors terwyl inwoners gereeld watertekorte ervaar.

Die VF Plus sal in die betrokke portefeuljekomitee eis dat die departement en die premier, Maqueen Leshoa-Mathae, moet aandui wat elke munisipaliteit se planne is om die waterverliese te beperk.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.