Die VF Plus het die Vrystaatse LUR vir gesondheid, mnr. Monyatso Mahlatsi, versoek om dringend die ernstige gesondheids- en veiligheidsrisiko’s by die Nasionale Hospitaal in Bloemfontein op te los.
Tydens ‘n oorsigbesoek van die VF Plus by die hospitaal is gevind dat die hospitaal gebuk gaan onder ernstige probleme.
Gevandaliseerde heinings aan die westekant maak dit maklik vir misdadige elemente om toegang tot die perseel te verkry, terwyl mediese afval in die veld gestort lê en ou asbesstrukture geplunder word.
Die VF Plus het klagtes van Wilgehof-inwoners ontvang wat diep bekommerd is oor die gesondheidsgevare wat asbes- en mediese afval veroorsaak. Verder word die verlate gebied gebruik vir dwelmhandel, wat die omgewing onveilig maak vir inwoners.
Daar is ook klagtes van die plundering van hospitaalvoorraad, insluitend nuwe beddens en matrasse wat na bewering onwettig verwyder word.
Dit dui op ernstige sekuriteitsprobleme en swak beheer oor hulpbronne in staatshospitale.
Met die naderende implementering van die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV), wys hierdie situasie weereens waarom die NGV nie kan slaag in die huidige omstandighede nie. Indien die staat nie basiese beheer en instandhouding in hospitale kan verseker nie, sal die NGV ‘n onhaalbare en riskante onderneming wees.
Die VF Plus doen ‘n beroep op die departement van gesondheid om dringend aandag te gee aan die herstel van heinings, die verwydering van mediese afval en asbes en verbeterde sekuriteit op die perseel.
Die gesondheid en veiligheid van gemeenskappe rondom staatshospitale asook die van pasiënte moet altyd ‘n prioriteit wees.