Die VF Plus in die Tshwane-metroraad doen ’n beroep op inwoners van die Moot in Pretoria om nie hul huishoudelike afval, tuinvullis en bourommel langs strate of leё persele in Rietfontein, Villieria, Rietondale en Riviera te stort nie.
Die party het die afgelope drie maande meer as 80 sulke gevalle by die Tshwane-metropolisie en die departement van afvalbestuur en omgewingsake aangemeld.
Dit kos die metro jaarliks meer as ’n miljoen rand om vragmotors en werkers te stuur om hierdie rommel op te ruim. Net in 2022 het dit die metro R126,3 miljoen gekos.
Mense wat hulself skuldig maak aan die onwettige storting van afvalmateriaal, kan ’n boete of selfs tronkstraf opgelê word.
Vullisdromme word aan elke huishouding voorsien en indien ’n tweede drom verlang word, kan daar by die metro aansoek gedoen word.
Huishoudelike afval van minder as 1,3 ton kan gratis by die verskillende stortingsterreine afgelaai word.
Oormatige huishoudelike afval kan by ’n stortingsterrein in Soshanguve, Ga-Rankuwe, Heatherley en Bronkhorstspruit gelaat word.
Inwoners kan tuinvullis wat minder as 1,3 ton weeg, by die nege verskillende oorgangsterreine aflaai. Die terreine is in Dorandia, Magalieskruin, Menlopark, Mountain View, Philip Nelpark, Rooihuiskraal, Krugerlaan, Eersterus en Waltloo.
Afval kan ook by die oorgangstasies in Cullinan en Mabopane gestort word.
Die VF Plus versoek inwoners van die Moot om hande te vat met die party en ’n skoon en netjiese omgewing te skep wat tot voordeel van al sy inwoners is.


