Almal in Suid-Afrika word weens moeilike ekonomiese tye gevra om die gordel stywer te trek, maar dit geld blykbaar nie die staatspresident wie se vroue in weelde leef en vervoer word met die belastingbetaler se geld nie, sê dr. Pieter Groenewald, die VF Plus se hoofwoordvoerder oor polisie.
Dr. Groenewald het vandag in sy ledeverklaring in die parlement gesê die minister van finansies en sy span doen tans alles in hul vermoë om te verhinder dat Suid-Afrika afgegradeer word na rommelstatus.
Hy sê ‘n deel van hierdie pogings is om omstandighede te skep waar buitelandse beleggers sal wil belê in Suid-Afrika en sodoende help om werkgeleenthede te skep.
“Suid-Afrika word tans besoek deur Standard & Poor’s om ‘n ingeligte besluit oor die land se graderingstatus te kan neem. Dan vra ‘n mens jouself af hoe dit ontvang sal word as dié mense moet hoor en lees dat ten minste elf voertuie teen ‘n bedrag van R9 miljoen vir president Jacob Zuma se vroue gekoop is.
“Daar word ‘n beroep op almal in Suid-Afrika gedoen om weens moeilike ekonomiese tye die gordel styf te trek. As dit egter by die president kom, is dit of die regering blind is en toelaat dat hy in absolute luuksheid leef.
“Ons hoor in die parlement van die armes se nood, maar die president se vroue kan in weelde en luuksheid leef en vervoer word. Dit is totaal onaanvaarbaar en die VF Plus vra dat die minister van polisie behoorlik verantwoording moet doen daaroor,” sê dr. Groenewald.
Kontaknommers: 083 627 4397 / 083 419 5403