Daar het sedert 2005 ‘n dramatiese swaai in die beleggingsprofiel van Suid-Afrika plaasgevind met plaaslike sakelui wat toenemend verkies om eerder in die buiteland te belê terwyl buitelanders toenemend wegbly uit die land.
Volgens die ekonoom Mike Schüssler het die netto buitelandse regstreekse investering (FDI) as persentasie van die bruto binnelandse produk (BBP) in 2005 ‘n hoogtepunt van 24% bereik en in 2017 ‘n laagtepunt van byna -31%.
In die lig hiervan, en teen die agtergrond van die ANC-regering se besluit oor onteiening sonder vergoeding, het dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, vandag met vraetyd aan die president, pres. Cyril Ramaphosa, gevra wat aan buitelandse beleggers gesê word om hulle te oorreed om tóg plaaslik te belê.
Dr. Groenewald het dit aan pres. Ramaphosa gestel dat die blote aanvaarding van die beginsel van onteiening sonder vergoeding, beleggers sal afskrik.
In sy antwoord het die president gesê Suid-Afrikaanse beleggers het waarskynlik goeie beleggingsmoontlikhede in die buiteland gesien en het dit benut.
Hy het die versekering gegee dat baie van dié beleggers oor ‘reuse reserwes’ beskik en dat die regering met hulle gesprek voer om hulle te oortuig om terug te keer en in die plaaslike mark te belê.
Hy het gesê baie van die beleggers luister na die versoek en is ‘bereid om dit te oorweeg’, en die tekens dat dit wel kan gebeur, is ‘baie belowend’.
Wat die president en die ANC egter nie verstaan nie is dat hierdie potensiële beleggers, maatskappye is en nie liefdadigheidsorganisasies nie. Geen maatskappy sal belê in 'n land waar daar beleidsonsekerheid heers, dienslewering nie plaasvind nie en infrastruktuur in duie stort. Die voorgestelde minimumloon dien ook as 'n afskrikmiddel vir industrieë om in Suid-Afrika te belê.
Kontaknommers: 083 627 4397 / 065 801 7216