Pres. Jacob Zuma stel die voorbeeld in wetteloosheid en die verontagsaming van die Grondwet in Suid-Afrika, en dit word nagevolg deur mense tot op grondvlak, sê dr. Pieter Groenewald, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor die presidensie.
Dr. Groenewald het in die parlementêre debat oor die wenslikheid van ‘n ad hoc-komitee wat oor die verwydering van die president moet besluit, gesê indien die ANC se parlementslede oortuig is dat die president nie die Grondwet oortree het nie, moet hulle die aanstelling van die komitee steun. Andersins sal dit lyk of hulle iets het om weg te steek.
“Waarom moet ‘n gesprek plaasvind tussen die Grondwet-regters, die regbank en die regering? Dit dui reeds op ‘n probleem.
“Net verlede week het hulle vergader en ooreengekom dat die regering en die regbank mekaar nie sal kritiseer nie. Skaars ‘n paar dae daarna val Gwede Mantashe (sekretaris-generaal van die ANC) die regbank aan en sê hulle skep ‘n onderskeid tussen ryk en arm. En nêrens het die ANC hom tereg gewys nie.
“Die uitgangspunt van die president spreek duidelik uit mediaberigte waarin hy onder meer sê die ANC is ‘belangriker as die Grondwet’ en dat die Grondwet net daar is om sake te ‘reguleer’.
“Hierdie houding van die president suurdeeg deur tot op grondvlak. Hy praat nou oor die 141 mense wat gesterf het in 110 motor-ongelukke. Dit spreek van wetteloosheid waarin die president die voorbeeld stel.
“As die staatspresident die reg verontagsaam, sal die mense op grondvlak dit ook doen. Dit laat ‘n mens dink aan ‘n klein bontpoot-bosluis wat ‘n groot bees kan laat vrek met ‘n enkele byt. Net so is die president soos ‘n bontpoot-bosluis. As hy die reg verontagsaam, sal die mense op grondvlak dit ook verontagsaam,” het dr. Groenewald gesê.
Kontaknommers: 083 627 4397 / 083 419 5403