Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Die ware oorsaak van land se buitensporige drank- en dwelmprobleme sal gevind word in ANC-beleid

Geen welklinkende program of veldtog gaan iets aan die land se buitensporige drank- of dwelmprobleem doen nie. Die oorsaak is die land se siek ekonomie wat mense desperaat en sonder hoop laat, sê dr. Corné Mulder, hoofsweep van die VF Plus.

Dr. Mulder het vandag in ‘n parlementêre debat oor die sosiaal-ekonomiese impak van drank, dwelms en ander middels op die gemeenskap gesê die probleem is dat die regering net die simptome van ‘n probleem wil behandel, maar die oorsake ignoreer.

Hy het ‘n vergelyking getref tussen die ekonomieë van die vyf oorblywende kommunistiese lande in die wêreld – Noord-Korea, Kuba, China, Laos en Viëtnam – en gesê dit is duidelik Suid-Afrika ly ook aan die “baie ernstige siekte” met die naam sosialisme en kommunisme.

“Die ekonomie krimp, werkgeleenthede raak minder en mense raak wanhopig. En terwyl Suid-Afrika agteruit beweeg, is ander Afrika-lande besig om te groei.

“Die regering kan daarom al die programme en veldtogte denkbaar hê, maar tensy die ekonomie groei sodat mense weer hoop en werk kan hê, sal die probleem nie opgelos word nie.

“Die president het onlangs gesê dis die parlement se taak om na die politieke om te sien terwyl die sakewêreld na die ekonomie moet omsien. As dit gedoen word, sou dit baie beter gegaan het. Maar ANC-beleid staan breedweg in die pad daarvan.

“Die uiteinde is dat mense hulle na drank en dwelms wend. Dit is tragies wat elkeen van die gesinne en families deurgaan wat hierdeur geraak word en geen veldtog of program sal dit verander nie. Behandel die ekonomie, en hierdie probleme sal vanself weggaan,” sê dr. Mulder.

 

Kontaknommers: 083 626 1497 / 083 419 5403

 

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.