Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Positiewe polisie-statistiek oor misdaad moet as aansporing dien om misdaad meer kragdadig te bestry

Ná jare van stygende misdaadsyfers is die afgelope twee kwartale se sigbare afname verblydend en goeie nuus vir alle Suid-Afrikaners – veral met die feesseisoen op hande.

Presies waaraan die skielike afplatting te danke is, veral wat geweldsmisdaad aanbetref, is nie seker nie. Dit mag egter nie ʼn valse gevoel van gerustheid onder wetstoepassers skep nie en moet eerder as motivering dien om nog harder te werk.

ʼn Klad op hierdie positiewe statistiek is die toename in moord, poging tot moord en aanranding op vroue en kinders. Geen poging om die land se vroue en kinders te beskerm, werp blykbaar vrugte af nie.

Moord op vroue is met 8,6% op teenoor die ooreenstemmende kwartaal verlede jaar en poging tot moord met 3,5%. Moord op kinders is op met 7,5% en poging tot moord met ʼn skokkende 35,7%.

Dit werp ʼn tragiese refleksie op Suid-Afrika se gemeenskap en sy morele waardes wanneer 957 vroue in net drie maande (Julie tot September) vermoor word met pogings om nóg 1 567 te vermoor.

Uitsprake wat die minister van polisie, Senzo Mchunu, vandag met die uitreiking van die misdaadstatistiek gemaak het oor onder meer onwettige myners, wys dat hy nie hul bedrywighede sal duld nie.

Sulke uitlatings stuur ʼn sterk boodskap aan alle misdadigers dat hulle geen genade kan verwag nie.

Minister Mchunu is duidelik ʼn verbetering op sy voorganger, Bheki Cele. Die VF Plus het lank daarop aangedring dat Cele vervang moet word aangesien hy duidelik nie opgewasse was vir sy taak nie.

Wat die res van die statistiek aanbetref, is geweldsmisdaad feitlik deur die bank minder. Moord is af met 5.8%, roof met 6,2% en roof met verswarende omstandighede met 8,8%.

Verkragting is 3,1% minder en die gevreesde trio-misdade, motorkaping (9,4%), rooftogte by woonhuise (1,3%) en rooftogte elders (21,1%) toon saam ʼn skerp afname.

Transitorooftogte was 24 voorvalle minder as die ooreenstemmende tydperk verlede jaar en vragmotorkapings is af met 15,3%. Verlede kwartaal het dit reeds ʼn gesamentlike afname van 14% getoon.

Vir Jan en Alleman is dit ook goeie nuus dat misdaad soos inbraak by woonhuise (-9,2%), inbraak elders (-15,6%), motor- en motorfietsdiefstal (-10,3%) en diefstal uit ʼn voertuig (-8,9) eweneens skerp afgeneem het. Selfs veediefstal toon ʼn afname van 4,1%.

Suid-Afrikaners was die laaste jare so vuisvoos van misdaad dat enige goeie nuus welkom is. Buiten die lot van vroue en kinders is hierdie wel goeie nuus. Die stryd teen misdaad is egter nog lank nie gewen nie en vereis dat alle vredeliewende Suid-Afrikaners saamstaan om die polisie se hand te sterk in hul taak.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.