Die proses wat gevolg word om departementele eksamenvraestelle in Limpopo af te lewer, is kommerwekkend.
Die jongste voorval in die Mopani-distrik, waartydens die graad 11-departementele Aardrykskundevraestel uitgestel moes word tot komende Maandag, beklemtoon ‘n probleem wat dringend aandag moet geniet.
Hoërskoolleerlinge in die Nkowankowa-streek moes boonop heeldag by die skool wag aangesien die 11:00 vraestel eers uitgestel is tot 14:00 en daarna gekanselleer is. Die meeste leerders het nie geld gehad vir kos nie.
Elders in die provinsie, soos in die Bela Bela-plaaslike munisipaliteit, was die vraestelle ook laat maar is daar wel om 14:00 voortgegaan met die eksamen.
Dit sal beteken dat leerlinge wat nie die Aardrykskundevraestel op Woensdag, 20 November, kon skryf nie, ’n ander vraestel sal skryf op Maandag, 25 November.
Dit is van kritieke belang dat die onderwysdepartement, wat verantwoordelik is vir die bestuur van die afleweringsproses, beter kontroles in plek moet stel ten einde die laat aflewering van vraestelle te voorkom.
Die VF Plus is van mening dat die saak dringend ondersoek moet word.


