fbpx
Vryheidsfront Plus

Polokwane: VF Plus eis dat LUR optree oor lugbesoedeling op Elmadal

Daar kan nie langer gesloer word met optrede oor die voortslepende lugbesoedeling op Elmadal in Limpopo nie.

Dié provinsie se LUR vir ekonomiese ontwikkeling, toerisme en omgewingsake, mnr. Rogers Monama, moet toesien dat die munisipale verslag rondom onwettige bedrywighede op ’n kleinhoewe in Elmadal bekend gemaak word om regstappe te voorkom.

Die kleinhoewes is net vir landbou- en verblyfdoeleindes gesoneer.

Die situasie is toegelaat om te sloer deurdat die Polokwane-plaaslike munisipaliteit (Pietersburg) versuim het om die nodige ondersoeke te doen en ’n verslag beskikbaar te stel aan prokureurs wat die saak namens inwoners hanteer.

Die vermeende onwettige ontwikkeling van ’n steenmakery op ‘n kleinhoewe in dié omgewing en gepaardgaande lugbesoedeling het inwoners onsteld gelaat en hulle genoop om stappe te neem.

Die plaaslike balju het reeds in Februarie 2023 'n staak-en-weerhoudingsbrief gerig aan die eienaars van die onwettige ondernemings.

Inwoners is veral bekommerd oor die lugbesoedeling wat veroorsaak word tydens die sementbaksteen-vervaardigingsproses. 'n Fyn poeier word vrygestel wat op die lange duur tot gesondheidskwessies kan lei.

Die VF Plus is in besit van die prokureursbrief gedateer 23 Februarie aan die bestuurder van die munisipaliteit se regsafdeling, mnr. Reuben Maleta.

Daarin wys die firma uit dat die munisipaliteit se grasietydperk van sewe dae om die inspeksieverslag te verskaf, verstryk het.

Daar is onder meer ’n versoek aan Maleta gerig om toe te sien dat ’n inspeksie van die kleinhoewe wel geskied aangesien dit moontlike regstappe sal bepaal.

Intussen het die party op 13 Maart ook ‘n klag by die menseregtekommissie (MRK) ingedien namens bekommerde inwoners van Elmadal wat uitgereik het na die VF Plus.

Ingevolge die Grondwet het almal die reg tot 'n omgewing wat nie skadelik is vir ‘n mens se gesondheid of welstand nie.

Die VF Plus sal die vordering van die saak monitor en optree in die beste belang van inwoners.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.