Die ANC-beheerde Polokwane-plaaslike munisipaliteit (Pietersburg) het vier van die VF Plus se voorstelle rakende die 2021/22-finansiële jaarverslag goedgekeur.
Dit is die eerste keer dat dié ANC-beheerde raad ag slaan op die party se voorstelle.
Die aanvaarde voorstelle is as volg:
1. Dat beplanning en die aanstelling van kontrakteurs en konsultante in die vierde kwartaal afgehandel word vir implementering met aanvang van die nuwe finansiële jaar.
2. Dat direkteure aanspreeklik gehou word indien hulle versuim om te verseker dat die jaarlikse prestasieplanne/kontrakte met die diensleweringsteikens vervat in die goedgekeurde Dienslewering en Begrotings-implementeringsproses ooreenstem.
3. Dat voorsieningskettingbestuur gekwalifiseerde diensverskaffers met potensiële kapasiteit aanstel om die projekte wat toegeken is te voltooi om toelae-verliese en onafgehandelde projekte te vermy.
4. Dat swak presterende kontrakteurs op die munisipaliteit se swartlys geplaas word soos gelei deur die assesseringsverslag oor die prestasie van diensverskaffers.
Die VF Plus is lid van die munisipaliteit se openbare rekeningekomitee (MPAC) wat 'n oorsigverslag opgestel het as deel van 'n wetlike vereiste ingevolge die Munisipale Finansiële Bestuurswet.
Die voorstelle wat finansiële verantwoordbaarheid en bestuur bevorder, is tot voordeel van alle inwoners en dwing dié munisipaliteit se direkteure om streng beheer oor gekontrakteerde projekte te handhaaf.
Kommentaar rakende die party se voorstelle wat die raad se hoofsweep, Adolf Rapetswa, gemaak het, was van 'n positiewe aard.
Die implementering van die party se voorstelle sal beteken dat projekte wat met toekennings befonds word, wel betyds voltooi kan word en dat onbestede fondse nie aan nasionale tesourie terugbetaal sal moet word nie.
Die voordeel hier is dat begrotings vir basiese dienslewering nie uitgeput word om onvoltooide projekte te befonds nie.
Die VF Plus het wel beswaar aangeteken teen die raad se aanvaarding van die jaarverslag sonder voorbehoud.
Die party is van mening dat die jaarverslag teruggestuur moet word vir hersiening voor publikasie sodat foute wat gemaak is, gemonitor en reggestel kan word.
Die VF Plus sal aanhou om as waghond op te tree en te veg vir beter dienslewering aan inwoners.


