Die VF Plus het die voorsitter van Mpumalanga se gemeenskapveiligheidskomitee, Norah Mahlangu, amptelik versoek om die provinsiale polisiekommissaris, lt.genl. Semakaleng Manamela, voor dié komitee te laat verskyn om te verduidelik waarom so min polisielede vanuit minderheidsgroepe die afgelope drie jaar bevorder is.
Die VF Plus het versoek dat hierdie vergadering so gou as moontlik plaasvind.
Die implementering van regstellende aksie (RA) het sy tol onder lede van alle minderheidsgroepe in Mpumalanga se polisie geëis wat bevorderings aanbetref.
Slegs vier wit en twee bruin polisielede is die afgelope drie jaar bevorder, in teenstelling met 124 swart lede wat bevorder is.
Geen Indiër polisielid is in dié tyd bevorder nie.
Hierdie onaanvaarbare stand van sake is onthul na navrae van die VF Plus oor bevorderings.
RA word al hoe strenger toegepas en lei tot die verlies van polisielede uit minderheidsgroep se kundigheid, en ervaring.
Die streng toepassing van die beleid kan die polisiediens verder verswak en onbevoeg laat terwyl wit en bruin polisielede ongemotiveer is en die diens verlaat.
Dit was nog altyd die VF Plus se standpunt dat net die beste mense in poste aangestel moet word, ongeag velkleur. Die party sal hom onverpoos beywer vir 'n regverdige bevorderingsbeleid.