Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Polisie-statistiek: Goeie nuus is dat algemene afwaartse neiging voortduur, al is misdaadvlakke steeds skreiend hoog is

Al toon die polisie se jongste misdaadstatistiek steeds ‘n afwaartse neiging wat verwelkom moet word, is die harde waarheid steeds dat Suid-Afrika verdrink in ‘n see van gewelddadige misdaad.

Twee voorbeelde is moord en verkragting. Die statistiek toon dat daar in die tydperk van Oktober tot Desember verlede jaar ‘n stewige 757 moorde (9,8%) minder was as in die ooreenstemmende tyd ‘n jaar gelede.

Die realiteit is dat daar in dié tyd steeds 6 963 moorde gepleeg is. Dit is sowat 77,3 per dag wat beteken dat daar elke uur in Suid-Afrika meer as drie mense vermoor word.

Verkragting is af met 3,3% of 408 gevalle teenoor ‘n jaar gelede. Net so is die harde realiteit dat 11 803 vroue in dié enkele kwartaal verkrag is. Dit is 131 per dag, of bykans 5,5 elke uur.

Geslagsgegronde geweld moet met erns gepak word. Lippetaal alleen gaan niks daaraan verander nie.

Hierdie syfers is ‘n skokkende aanklag teen die stand en standaard van polisiëring in die algemeen, maar ook teen die Suid-Afrikaanse samelewing wat oënskynlik afgestomp raak vir misdaad.

Een van die plekke waar misdadigheid ‘n gemeenskap dekades reeds teister, is die Kaapse Vlakte waar bendebedrywighede sodanig wortels geskiet het dat dit moeilik blyk te wees om uit te roei.

Die minister van polisie, Senzo Mchunu het vandag spesiale aandag gegee aan die hoë voorkoms van misdaad in veral Bishop Lavis en Delft op die Vlakte en het dit “misdaadneste” genoem.

Dit is nou reeds gebruiklik dat die polisiekantoor in Mitchells Plain een van vyf polisiekantore in die land is waar die meeste misdaad aangemeld word.

Daar is geen rede waarom dit so moet voortduur nie. Daarvoor sterf te veel kinders maandeliks in die bendes se kruisvuur. Die tyd het aangebreek dat bendes en misdaad, wat hoofsaaklik die Kaap se bruin gemeenskappe raak, kragdadig beveg word.

Ander misdaad wat ‘n afname getoon het, is kontakmisdaad soos moord (-9,8%), roof (-6%) en gewapende roof (-13,1%).

So ook die gevreesde trio-misdade. Motorkaping is af met 19,5%, rooftogte by woonhuise en 1,6% en rooftogte elders met 21,3%. Transitorooftogte is af met sowat 40%.

Gewone misdaad wat vir alle Suid-Afrikaners ‘n daaglikse nagmerrie is, toon ook ‘n welkome afplatting. Inbraak en diefstal by woonhuise is af met 12,3%, inbraak elders met 19%, diefstal van motors en motorfietse is 18,3% minder en selfs veediefstal is af met 4,5.

In dié tyd was daar luidens die statistiek net een boer vermoor. Vir die VF Plus is een moord nogtans een te veel.

Die goeie nuus oor laer misdaadsyfers is welkom, maar die syfers wys steeds dat die hele Suid-Afrika in werklikheid in misdaadnes is. Net enkele brandpunte op die Kaapse Vlakte nie.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.