(Begrotingsposdebat in die Vrystaat-wetgewer)
Alhoewel die VF Plus enige maatreëls sal steun om veilige gemeenskappe te verseker, betreur die party die omstredenheid rondom die metropolisie in die Mangaung-metro-munisipaliteit.
In wese is daar steeds net 'n diensvlakooreenkoms tussen die stadsbestuurder van Mangaung en die metropolisiehoof, Israel Kgamanyane. Ingevolge hierdie ooreenkoms is Kgamanyane reeds tussen Julie 2018 en Junie 2019 aangestel, maar inwoners van die metro voel nie veiliger nie aangesien die metropolisie oënskynlik nog nie funksioneer nie.
Die eenheid is nie sigbaar nie, behalwe in gevalle waar voertuie glo vir privaatgebruik benut word.
Bykomend hierby is dit onrusbarend dat Kgamanyane reeds in 2018 aangestel is, maar die instelling van die metropolisie is eers Januarie vanjaar goedgekeur.
Die Vrystaatse LUR vir polisie, paaie en vervoer, Sam Mashinini, het onlangs genoem dat die metropolisie spoedig op die been gebring moet word, aangesien die Vrystaat die enigste provinsie sonder ‘n metropolisiediens is.
Die VF Plus waarsku opnuut dat hierdie nie die enigste rede vir die stigting van so ‘n liggaam moet wees nie.
Die Vrystaatse departement moet die werklike kwessies van die provinsie in ag neem. Met die vlaag plaasaanvalle die afgelope maande in die Vrystaat, is dit duidelik dat die departement se prioriteite nie in lyn is met dié van die inwoners van die provinsie nie.
Die VF Plus hou plaasaanvalle- en moord etlike jare al op die agenda en die vrugte hiervan word nou eindelik gepluk.
Die party is bewus van daadwerklike pogings om landelike beveiliging op te skerp en doen opnuut ‘n beroep op die Vrystaatse LUR om spesiale en dringende aandag aan hierdie aanvalle van terreur in die Vrystaat te gee.
Navrae: 076 629 6219