Die VF Plus in Limpopo is bekommerd oor plaasaanvalle en -moorde gedurende die inperkingstydperk nadat mev. Joekie Nortjé (82) en haar seun Johan (62) net na 7:00 vanoggend deur vier verdagtes oorval is op hul plaas Nooitgedacht buite Louis Trichardt in Limpopo.
Dit is die tweede aanval op die bejaarde dame en haar seun in minder as ‘n jaar.
Hierdie aanval is 'n duidelike bewys, veral gedurende die Covid-19- inperkingstydperk, dat die polisie nie hul pligte sonder die bystand van plaas- en buurtwagte en gemeenskapspolisiëringsforums na behore kan nakom nie.
Die VF Plus het dit verlede week tydens 'n vergadering met die premier van Limpopo, Stanley Mathabatha, duidelik gemaak dat hierdie veiligheidstelsels weer in plek gestel moet word om die gemeenskap te beveilig en hulle te hulp te snel indien nodig.
Die boeregemeenskap is in die inperkingsperiode in 'n kwesbare posisie en die VF Plus se leier, dr. Pieter Groenewald, het reeds herhaaldelik versoek dat die nasionale regering en minister van polisie, Bheki Cele, private sekuriteitstrukture weer in werking stel.
Kontaknommer: 066 024 4623