Die VF Plus het vrae oor die heining van 40km lank by die Beitbrug-grenspos tussen Suid-Afrika en Zimbabwe gerig aan die minister van openbare werke en infrastruktuur, mev. Patricia de Lille.
Die VF Plus sal graag wil weet hoe lank dit gaan neem voordat die grensdraad herstel is, wat die herstelkoste gaan wees, watter soort draad daar was en nou gebruik gaan word en watter maatreëls nou in plek gestel gaan word om te verseker dat die draad nie weer gevandaliseer gaan word nie.
Die VF Plus is bekommerd oor die hoë bedrae geld wat bestee is om die heining op te rig net om weer beskadig te word selfs voordat werk aan die heining afgehandel is. Alhoewel dit nodig is dat grense tussen Suid-Afrika en buurlande gesluit moet wees om die verspreiding van die Covid-19-virus te beheer en te beperk, moet daar behoorlike maatreëls in plek wees om te verseker dat beskadiging aan die heinings nie plaasvind nie en dat voldoende patrollerings in plek gestel word vir dié doel.
Die VF Plus is duidelik daaroor dat grense gesluit moet wees, maar dan moet die nodige sluitings gepaard gaan met voldoende beheer en voorsorgmaatreëls om te verseker dat onnodige kostes nie aangegaan moet word om voortdurend herstelwerk aan die heinings te doen nie.
Projekte moet met groot sorg aangepak word en daar moet baie versigtig omgegaan word met belastingbetalers se geld.
Kontaknommer: 060 556 4347