Die VF Plus, in samewerking met die Phokwane-plaaslike munisipaliteit (Hartswater, Jan Kempdorp en Pampierstad) en die gemeenskap, stuur ‘n baanbrekersprojek van stapel waar inwoners hul eie songedrewe straatligte kan aanskaf.
Die munisipaliteit installeer dié lig dan voor die betrokke inwoner se huis of onderneming en onderhou dit ook. Dit verhoog die gerief en volhoubaarheid vir alle partye.
Die inisiatief word met groot geesdrif en ondersteuning ontvang. Dis ‘n belangrike stap in die rigting van ‘n veiliger, helderder Phokwane.
Die Phokwane-munisipaliteit beoog met die projek om veiligheid in die gemeenskap te bevorder, die estetiese waarde van die dorpe te verhoog en terselfdertyd die druk op die kragaanvraag te verlig.
VF Plus-raadslid Rickus Te Baerts tree as die skakelpersoon tussen die gemeenskap en die munisipaliteit op en is beskikbaar vir enige navrae of nadere inligting. Inwoners kan hom skakel by 079 180 0560.
Antoinette Groenewald, VF Plus-takvoorsitter in Jan Kempdorp, sal Jan Kempdorp en Ganspan behartig. Haar nommer is 082 923 615.
Hierdie projek beklemtoon die VF Plus se verbintenis tot die veiligheid en volhoubare ontwikkeling in Phokwane.


