fbpx
Vryheidsfront Plus

Pasiënte in Gauteng verdien meer empatie van verpleegpersoneel

Die Gautengse LUR vir gesondheid, Bandile Masuku, kan nie apaties staan teen die onmenslike behandeling wat pasiënte van verpleegpersoneel in die Mamelodi-hospitaal ontvang nie.

Die VF Plus waardeer die LUR se besoek aan die hospitaal, maar nou verwag die gemeenskap, soos die VF Plus, doelgerigte oplossings.

Dié hospitaal is die afgelope jaar aan verskeie voorvalle van swak gesondheidsorg verbind. In die jongste voorval het die pasgebore baba van ‘n Zimbabwiese vrou, Theresa Ngwendu (30), op die grond geval terwyl ‘n verpleegster geweier het om haar te help met die geboorte van haar kind.

In nog ‘n voorval vroeër vanjaar is ‘n hoogswanger vrou weggewys toe sy die gemeenskap-gesondheidsentrum in Mamelodi om hulp genader het. Sy is aangeraai om na die Mamelodi-hospitaal te gaan. Die baba is by die hekke van die sentrum gebore.

In Mei vanjaar was die skokkende voorval waar die bejaarde Martha Marais in die Mamelodi-hospitaal op die grond gelê het waar sy aan ‘n stoel vasgebind was.

Dit is jammer dat selfs in Vrouemaand, waar die klem op vroue en kinders val, daar soveel gevalle is waar gesondheidspersoneel nie eens basiese sorg aan vroue en hul ongebore babas gee nie.

Verpleegpersoneel word deur die eed wat hulle aflê verplig om pasiënte met agting en simpatie te behandel.

Dit is algemeen bekend dat provinsiale hospitale ‘n personeeltekort het, maar dit regverdig nie hierdie optrede van verpleegpersoneel nie.

Die VF Plus gaan die LUR versoek om ‘n omvattende ondersoek te laat doen en ‘n verslag saam te stel rondom probleme wat hospitale ondervind om sodoende oplossings na die tafel te bring.

Die VF Plus sal nie rus alvorens die haglike toestande in hospitale in die land namens alle landsburgers omgedraai en reggestel word nie.

Kontaknommer: 066 010 1053

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.