Suid-Afrika se departement van staatsdiens en administrasie is veronderstel om 'n doeltreffende, effektiewe en ontwikkelings-georiënteerde diens te lewer wat 'n noodsaaklike element van 'n bekwame en ontwikkelende staat is, dit is egter nie die geval nie.
In stede daarvan het hy ontaard in ‘n lomp, burokratiese monster waar R8 uit elke R10 wat deur die staat bestee word aan salarisse gaan.
Wat diens aanbetref, is daar nie sprake van doeltreffendheid nie, nieteenstaande die feit dat daar tog bekwame en hardwerkende amptenare is wat hul bes doen om ‘n goeie diens te lewer ongeag die gebrek aan leierskap van die ANC-regering. Hierdie amptenare word heel dikwels nie toegerus met die nodige hulpbronne om hulle werk te doen nie.
Werkloosheid in Suid-Afrika is ‘n reuse probleem, maar die regering se idee van werkskepping is om bloot meer mense in die staatsdiens aan te stel. Staatsdepartemente het plekke van werkskepping geword waar kaders vir wie daar nie plek is in rade, wetgewers of die parlement nie, aangestel word. Daar is talle voormalige ANC-LP ’s wat nie herkies is tot die parlement nie en nou skielik aangestel is in senior poste in staatsdepartemente.
Dit is onverstaanbaar hoe die regering die staat se salarisrekening sodoende wil kleiner maak. Salarisse plaas ‘n reuse las op die fiskus. Die staat se salarisrekening beloop ‘n reusagtige R587 miljard per jaar. Die realiteit is dat daar egter net R2 uit elke R10 oorbly om Suid-Afrika aan die gang te hou.
Die oplossing hiervoor is om kundiges in die sleutelposte aan te stel en weg te doen met nuttelose kaderaanstellings om sodoende ‘n klein, maar bekwame diens te skep. Vakbonde en die skade wat hulle veroorsaak deur onredelike eise en stakings, moet aan bande gelê word terwyl prestasiebonusse waar daar net agteruitgang is, summier gestop moet word.
Besparings op die salarisrekening wat deur ‘n kleiner administrasie teweeggebring word moet van die hoogste tot op die laagste vlak deurgevoer word en sleutelpersoneel, soos onderwysers, verpleegsters en polisielede, moet beskerm en behoorlik bemagtig word.
Die staat moenie die primêre werksverskaffer in die land wees nie, maar moet eerder werk skep deur af te sien van verkeerde prioriteite en skeefgetrekte beleidsrigtings en tweedens die privaatsektor in staat stel en bemagtig om werk te voorsien.
Kontaknommer: 072 997 8315