Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Parlementêre begrotingsdebat: Openbare Ondernemings – VF Plus steun Gordhan in sy stryd om openbare ondernemings te red

Die optrede van die EFF om die begrotingsdebat van die departement van openbare ondernemings te ontwrig was skokkend, en die VF Plus sal die betrokke minister, Pravin Gordhan, steun in sy pogings om diegene wat by staatskaping betrokke was, aan die man te bring.

Opregte politieke wil gaan nodig wees om Suid-Afrika se openbare ondernemings, die fiskus en die ekonomie te red, om op te tree teen die plunderaars en om seker te maak dit sal nie weer gebeur nie.

Die minister mag in die proses ook nie gyselaar gehou word deur die alliansievennote van die ANC nie en veral nie deur vakbonde wat probeer om die minister te verhinder om daadwerklik op te tree in sy pogings om die ondernemings op die pad na herstel te plaas nie.

In dié verband is dit insiggewend om ‘n verband te tref tussen ‘n vorige staatsbeheerde onderneming Telkom en die huidige ondernemings. Telkom word tans deels (40,5%) deur die staat besit en is nou winsgewend.

Die jongste syfers wys dat Telkom se wins na belasting gestyg het met 11,5%. Hy het R1,2 miljard aan belasting betaal asook ‘n dividend van R750 miljoen aan die staat. Vergelyk dit met die SAA wat oor die volgende drie jaar R22 miljard nodig het en Eskom wat R69 miljard benodig om hulle van ondergang te red.

Die ommeswaai by Telkom het nie oornag plaasgevind nie, maar daar moet iewers ‘n begin gemaak word om die ondernemings te red en vakbonde mag nie toegelaat word om hierdie pogings in die wiele te ry nie.

Ewe belangrik is dat die minister hom nie deur ideologiese idees moet laat stuit nie. Hy moet dapper genoeg wees om die stappe te neem wat nodig is om Suid-Afrika se belangrike openbare ondernemings van ondergang te red.

Die VF Plus se oorweldigende oorwinning in gister se tussenverkiesing in Stilfontein is belangrik in dié verband. Dit verleen stukrag aan die tendens wat met die verkiesing ontstaan het waarin kiesers duidelik wys hulle het vertroue in die VF Plus om deel te raak van die proses om Suid-Afrika, in die belang van al sy inwoners, op die pad na ekonomiese herstel te plaas.

Kontaknommers: 082 674 6670 / 065 801 7216

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.