Dit is vir die VF Plus duidelik dat pres. Cyril Ramaphosa met die aanstelling van ’n regterlike ondersoekpaneel van drie lede, oorreageer oor die gebeure rondom die Russiese vragskip Lady R.
Dit sal ook totaal onaanvaarbaar wees indien die paneel gaan probeer om gewone amptenare die sondebokke te maak vir die gebeure om politici skotvry daarvan te laat afkom.
Hierdie oorreaksie maak dit duidelik dat die voorval ’n groot verleentheid vir die regering is. Die Lady R het Simonstad in Desember aangedoen en ’n vrag is klaarblyklik in die middernagtelike ure op die skip gelaai.
Dit is nie nodig om so ’n omvattende paneel van ondersoek van drie persone daar te stel nie. Een persoon sou voldoende gewees het.
In hierdie geval staan die afgetrede regter Phineas Mojapelo aan hoof van die ondersoek. Hy word bygestaan deur adv. Leah Gcabashe (SC) en mnr. Enver Surty.
Eintlik behoort die president net die nasionale konvensionele wapenbeheer-komitee te vra om hom van die dokumentasie oor die gebeure te voorsien.
Die wet vereis dat alle in- of uitvoere van wapens goedgekeur moet word deur hierdie komitee.
Gegewe president Ramaphosa se traagheid om in baie ander gevalle daadwerklik op te tree, moet sy besluit om die paneel aan te stel, nogtans verwelkom word.
Dit staaf ook die feit dat dit vir die president en die regering ’n groot verleentheid is.
Die paneel sal veral aandag moet gee aan die politieke toestemming wat gegee behoort te word met wapentransaksies van hierdie aard.
Toestemming moes duidelik op ’n hoë vlak gegee gewees het om die militêre vlootbasis Simonstad te gebruik vir ’n transaksie waar wapens vermoedelik van hande verwissel het. Die VF Plus sal die verwikkelinge fyn dophou.


