Geld word verkwis op hospitaal-naamsveranderinge in Mahikeng in Noordwes terwyl kartondose as bababedjies moet dien.
Dit is skokkend dat babas hierdie week in kartondose in die Bophelong-provinsiale hospitaal in Mahikeng moes lê weens ʼn tekort aan geskikte beddens in die hospitaal se neonatale eenheid.
Dít terwyl Noordwes se ANC-LUR vir gesondheid, mnr. Madoda Sambatha, Dinsdag met trots aangekondig het dat daar begroot is vir die naamsverandering van vyf hospitale in dié provinsie.
Hierdie voorval belig opnuut die feit dat die ANC-regering totaal sy greep op die realiteit verloor het en geen meegevoel het met die lyding van die gewone Suid-Afrikaner nie.
In stede daarvan om die groot tekorte in toerusting en personeel in die Noordwes se provinsiale hospitale aan te spreek, word skaars finansiële hulpbronne vir ideologies gedrewe onbenullighede soos naamsveranderings aangewend. Dit is skandelik.
Die VF Plus sal daarop aandring dat daar dringend ʼn oorsigbesoek deur die portefeuljekomitee oor gesondheid in die wetgewer aan die hospitaal gebring word.
Die party eis ook dat die geld wat vir die naamsveranderinge bewillig is, geherpriotiseer moet word om tekorte in noodsaaklike toerusting reg te stel.
Die inwoners van Noordwes verdien beter as die ANC.