Die staat moet daarteen waak om op ‘n oordrewe wyse aan die publiek voor te skryf hoe hy in sy private omgewing moet optree. Dit is nie die staat se taak nie. In Suid-Afrika het ons minder regering en nie meer nie nodig, sê dr. Pieter Mulder, parlementslid en voormalige leier van die VF Plus.
Dr. Mulder sê dit is belangrik dat die publiek, en in hierdie geval ouers, vertrou moet word met die opvoeding van hul kinders.
“Daar bestaan wette wat as afskrikmiddel en straf dien waar ouers die aanvaarde maatskaplike norms van die gemeenskap oortree wat tug aanbetref. In sulke gevalle moet daar streng teen die oortreders opgetree word om die boodskap duidelik oor te dra dat oordrewe of misplaaste tug onaanvaarbaar is.
“Ouers moet kinders in liefde grootmaak. Die VF Plus is van mening dat binne hierdie atmosfeer ‘n gesonde mate van huislike dissipline en tug ‘n groot bydrae lewer tot ‘n gedissiplineerde en geordende gemeenskap.
“Die staat behoort weggehou te word van die private sfeer van ouerlike gesag behalwe in gevalle waar kinders mishandel word. Hopelik sal die grondwethof die insig hê om hierdie uitspraak so te kwalifiseer,” sê dr. Mulder.
Kontaknommer: 065 801 7216