Die skielike vlaag plaasaanvalle in die Wes-Kaap is uiters kommerwekkend en die vraag kan tereg gevra word of hierdie euwel nou ook na dié provinsie oorgespoel het, sê dr. Corné Mulder, leier van die VF Plus in die Wes-Kaap.
In die jongste voorval is ‘n boer van Klapmuts naby Stellenbosch, mnr. Joubert Conradie (47) op sy plaas Uitkyk doodgeskiet. Tien dae gelede is mnr. Mark Fagan (46) van Klein Dassenberg naby Philadelphia doodgeskiet.
Enkele weke gelede is ‘n boer van Ceres in die Koue Bokkeveld in sy plaaswinkel aangeval en verskeie kere met ‘n mes gesteek. Hy het die aanval oorleef.
Dr. Mulder sê die Kaap hou lank reeds asem op oor die moontlikheid van plaasaanvalle wat tot dusver feitlik ongekend was in dié provinsie.
“Dit is in hierdie stadium nog nie moontlik om te sê of die aanvalle die begin is van ‘n vlaag van hierdie soort misdaad in die Wes-Kaap is nie. Die drie aanvalle moet nogtans die gevaarligte skerp laat flikker.
“Die VF Plus wil plaaslike boere maan om met ‘n nuwe ingesteldheid veiligheid op hul plase te benader, om dit op te skerp en om voortdurend waaksaam te wees aangesien plaasaanvalle wel op enige plek in die land kan voorkom.
“Die VF Plus doen ook ‘n beroep op die polisie om alles in hul vermoë te doen om die aanvallers op te spoor om sodoende intelligensie oor die moontlikheid van verdere aanvalle te bekom. Daadwerklike planne moet beraam word om te verhinder dat plaasaanvalle na die Wes-Kaap oorspoel.
“Ons vra ook dat Agri Wes-Kaap met alle rolspelers sal saamwerk om ons boere se veiligheid te verseker,” sê dr. Mulder.
Kontaknommers: 083 626 1497 / 065 801 7216