Die VF Plus en ander opposisiepartye se versoek dat die Langeberg-plaaslike munisipaliteit se raadsvergadering om die konsepbegroting vir die 2025/26-finansiële jaar goed te keur uit te stel, is deur die DA-beheerde raad verwerp.
Opposisiepartye het eers die middag voor die raadsvergadering die dokument van 1 450 bladsye ontvang om te bestudeer. Dit het opposisiepartye nie genoeg tyd gegun om die dokument deeglik deur te werk nie.
Die raad se eie reëls bepaal dat dit ten minste 48 uur voor die tyd beskikbaar gestel moet word.
Opposisiepartye en gemeenskapsorganisasies het ook wesenlike foute met die begroting uitgewys.
Inwoners van Langeberg is reeds bekommerd oor die munisipaliteit se finansiële bestuur en dit is duidelik dat kapitaalreserwes al hoe meer krimp.
Daar is veral kommer oor die munisipale invorderingskoers wat gedaal het van 98% tot 88%. Die munisipale rekeningstelsel wat in duie gestort het, speel ʼn groot rol in dié verband.
Die VF Plus beskou verder die verhoging van 8% vir vullisverwydering as onbillik. Dié styging is nodig om vullis vanaf Robertson na die nuwe vullisterrein wat op Worcester aangelê word te neem. Daar sal ook vier nuwe vullisverwyderingstrokke aangeskaf moet word vir die doel. Die VF Plus is van mening dat daar geskikte grond vir ʼn nuwe vullisterrein nader aan Robertson beskikbaar is wat die hoё tariefverhoging onnodig maak.
Die ander tariefverhogings is as volg:
• ‘n Kragverhoging van 11.32 %, Die begroting maak egter nie voorsiening vir kragdiefstal wat op ‘n beraamde verlies van 18% aan kraginkomste neerkom nie.
• Water, riool en eiendomsbelasting styg alles met 6%.
Dié verhogings is meer as dubbel die huidige inflasiekoers en is buitensporig. Inwoners kan dit nie bekostig nie.
Slegs 4% is begroot vir onderhoud aan infrastruktuur. Dit is hopeloos te min. Die VF Plus versoek lank reeds dat behoorlike beplanning hieroor gedoen word.
Geen voorsiening is gemaak vir skep van infrastruktuur vir nuwe ekonomiese ontwikkelings wat werk kan skep en inkomste kan genereer nie.
‘n Ruimtelike ontwikkelingsplan is reeds voltooi en grond is beskikbaar vir residensiële-, kommersiële- en industriële ontwikkelings. Dit nêrens in die begroting ingebou nie.
Hierdie begroting neem nie die belange van die inwoners in ag nie en die Langeberg-munisipaliteit is duidelik besig om op ‘n finansiële krisis af te stuur. Die VF Plus sal alles in sy vermoë doen om toe te sien dat dit nie gebeur nie.