Die naamsveranderinge van onder meer Port Elizabeth, Maclear en Uitenhage, is klinkklare bewys dat die ANC politiekery en sy gefaalde ideologie belangriker ag as die finansiële krisis waarin Suid-Afrika tans verkeer.
Die koste verbonde aan naamsveranderinge is groot en kon beter aangewend word om ekonomiese verligting op voetsoolvlak in dié Oos-Kaapse provinsie te bring.
Verskeie partye het aan die amptelike prosesse hieroor deelgeneem en het daarop gewys dat die projek finansieel onbekostigbaar is. Dit is ‘n duur prys wat belastingbetalers moet betaal vir goedkoop ANC-politiekery kort voor ‘n munisipale verkiesing.
Hierdie transformasie-agenda midde ‘n pandemie en ekonomiese krisis is onaanvaarbaar terwyl inwoners van die Oos-Kaap geknou word deur onder meer ‘n voortslepende droogte.
Die gevolge van die Covid-19-inperkingsregulasies was vernietigend vir baie mense in Suid-Afrika soos sportmanne en -vroue asook kunstenaars en geld wat nou met die sinnelose naamsverandering gemors word, kon eerder gebruik word om hierdie mense weer op die been te help.
Nuwe plekname hou nie volhoubare werkskepping óf inkomstesekuriteit vir niemand in nie. Die ANC en sy verwronge ideologie wys dat hy bereid is om mense te laat honger ly ten koste van transformasie.


