Die VF Plus word oorval met klagtes van buitensporige verhogings van eiendomswaardes op die nuwe waardasierol van die Matjhabeng-plaaslike munisipaliteit (Allanridge, Hennenman, Odendaalsrus, Ventersburg, Virginia, Welkom), terwyl inwoners geen dienste ontvang in ruil vir onbekostigbare munisipale belastings en heffings nie.
Die gemiddelde verhoging van residensiële eiendomswaardes is nagenoeg 100% en sekere kommersiële waardasies is met tot 450% verhoog. Dit is onaanvaarbaar en onbekostigbaar veral gegewe die huidige ekonomiese krisis.
Dié verhoogde waardasies gaan daartoe lei dat eiendomsbelasting dienooreenkomstig verhoog word en tot gevolg sal hê dat inwoners nie die enorme sprong in tariewe sal kan bybring nie. Die reeds verarmde gemeenskap van Matjhabeng moet reeds in die 2020/2021-finansiële jaar 6% meer vir tariewe opdok.
Verhoogde belastings en heffings sal nie broodnodige ekonomiese groei stimuleer nie.
Intussen is daar sprake dat munisipale bestuurders se totale vergoedingspakkette verhoog sal word en dat dié amptenare terugwerkend vanaf 1 Julie 2018 vergoed sal word. Die munisipaliteit kan nie hierdie salarisverhogings bekostig nie – veral nie wanneer hierdie verhogings nie geregverdig kan word teenoor inwoners wat geen dienste ontvang nie.
Inwoners word aangemoedig om met raadslid Susan Taljaard te skakel vir hulp in verband met die waardasierol en om besware teen verkeerde munisipale waardasies in te dien. Die waardasierol is ter insae beskikbaar tot 15 Maart 2021.
Navrae: 082 886 9945