Die Oos-Kaapse regering het die nasionale regering gevra om in te gryp by veertien wanfunksionele munisipaliteite wat nie meer in staat is om dienste aan inwoners te lewer nie.
Die munisipaliteite bevind hulle in ‘n ernstige finansiële krisis aangesien fondse wanbestuur word. Alles moontlik moet gedoen word om die munisipaliteite van totale ondergang te red en om te verhinder dat munisipale bates van die hand gesit word om skuld te delg.
Wanneer noodsaaklike toerusting en voertuie wel verkoop word, veroorsaak dit dat dienslewering verder verswak en sulke munisipaliteite verval in totale chaos tot nadeel van die inwoners.
Politieke inmenging is die middelpunt van die swak vertonings van munisipaliteite onder ANC-beheer. Die praktyk van onbevoegde kaderontplooiing waar die regerende party sy lede om politieke redes in strategiese posisies plaas, is rede vir die agteruitgang in dienslewering.
Dit is teenstrydig met die bepalings van Hoofstuk Sewe van die Grondwet, wat onder meer die deelname van die gemeenskap aan plaaslike regeringsake aanmoedig.
Die VF Plus is van mening dat inwoners die ANC se magsmisbruik meer kragdadig moet opponeer deur gebruik te maak van menseregte-organisasies soos inwoners- en belastingbetalersverenigings, wykskomitees en ander sosiale bewegings.
Inwoners moet hulself op hierdie wyse organiseer om te verseker dat munisipale amptenare primêr teenoor hulle verantwoording doen en nie teenoor hul politieke leiers en organisasies nie.
Munisipaliteite is 'n belangrike sfeer van bestuur en die een wat die naaste aan die mense op straat is wat dienslewering aanbetref. Dit is 'n vlak waarop die mense leiers van plaaslike owerhede kan identifiseer en verkies en hulle dan aanspreeklik kan hou vir dienslewering.
Die VF Plus verbind hom daartoe om alle inwoners te verteenwoordig en sal voortgaan om daarop aan te dring om munisipaliteite onder ANC-beheer tot orde te roep sodat dienslewering herstel kan word.
Kontaknommer: 072 582 3461