fbpx
Vryheidsfront Plus

Onwettige kragverbindings lei tot onluste in Rustenburg

Kragonderbrekings in Ziniaville en Karlienpark in Rustenburg, wat grotendeels veroorsaak word deur onwettige kragverbindings in ‘n aangrensende nedersetting, het nou gelei tot onluste in dié gebied.

Die VF Plus het reeds in Januarie 2020 versoek dat opgetree word teen oortreders en voorkomende maatreëls ingestel word.

Op 3 Junie 2020 het die munisipaliteit wel opgetree en begin om die onwettige verbindings te ontkoppel. Die polisie en weermag het die munisipaliteit bygestaan en beskerm terwyl die werk gedoen is.

Die gemeenskap het later oproerig geraak en teen omstreeks vyfuur die middag het die situasie begin handuit ruk met die betogers wat onder meer die omliggende woonbuurte ingevaar het en huise met klippe bestook het.

Substasies is aan die brand gesteek en Eskom-toerusting vernietig. ‘n Lid van die munisipaliteit se afdeling openbare veiligheid is beseer en ‘n plaaslike raadslid en sy gesin moes inderhaas na veiligheid gebring word.

Hierdie voorval is die hoeveelste die afgelope tyd waar wetsgehoorsame inwoners van Rustenburg geteister word deur die wettelose optrede van misdadige elemente in die gemeenskap.

Gereelde voorvalle wat wissel van onwettige huisbesettings tot die grootskeepse vandalisering van eiendom en infrastruktuur, skep ‘n beeld van ‘n eens vooruitstrewende gemeenskap onder beleg.

Dit kan nie langer toegelaat word dat Rustenburgers gyselaar gehou word deur misdadige elemente in die gemeenskap nie.

Die VF Plus doen daarom opnuut ‘n beroep op die regering om dringend in te gryp en te verseker dat wet en orde herstel word. Dringende stappe is nodig om te keer dat hierdie kern-ekonomiese sentrum van Noordwes nie ten gronde gaan nie.

Kontaknommer: 076 819 0648

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.