Die burgemeester van Ekurhuleni, Mzwandile Masina, se uitdaging aan die ANC om hom af te dank na sy nasionalisering-twiet, word deur die VF Plus ondersteun.
Die ANC in Gauteng se afgewaterde reaksie na Masina se openlike ondersteuning aan die EFF-leier, Julius Malema, dui op verdeeldheid in die ANC en op swak dissipline van hul leierskorps.
Die erkenning van die ANC dat Masina se twiet nie die party se beleidstandpunte verteenwoordig nie en om sy Twitter-rekening te sluit, is nie voldoende aanmaning van sy party om hom van ‘n volgende omstrede uitlating te weerhou nie.
Die VF Plus is van mening dat daar moontlike onderliggende redes is waarom Masina, ook streekvoorsitter van die ANC in Ekurhuleni, nie dadelik na sy twiet uit sy pos ontslaan is nie.
As burgemeester van Ekurhuleni kan Masina nie toegelaat word om radikale uitlatings te maak nie. Hy moet alle bevolkingsgroepe verteenwoordig en daarom is ekonomiese vooruitgang, sonder voorbehoud, van kardinale belang in die groei van elke dorp en metro.
Alhoewel die Ekurhuleni-metroraad se inkomste hoofsaaklik van minderhede afkomstig is, is dit belangrik dat alle inwoners en sakeondernemings meewerk om die gebied ekonomies te laat groei en ontwikkel.
Die hervorming van die ekonomie, soos Masina dit in sy twiet stel, sodat die meerderheid voordeel daaruit trek, is ongrondwetlik en skep verwarring.
Die VF Plus gaan die Gautengse provinsiale regering en nasionale regering versoek om druk op die ANC te plaas om die burgemeester verantwoordelik te hou vir sy radikale uitlatings.
Kontaknommer: 072 217 1951