Die VF Plus sal nie die Ekurhuleni-metroraad (Brakpan, Benoni, Boksburg, Springs, Kempton Park, Nigel, Alberton, Germiston, Edenvale/Bedfordview, Midstream en informele nedersettings) se 2020/21-begroting ondersteun indien dit nie volhoubaar en in die belang van alle inwoners is nie.
Die burgemeester van Ekurhuleni, Mzwandile Masina, het erken dat ‘n finansiële krisis die metro in die gesig staar weens die nadelige invloed van Covid-19 op die metro se ekonomie. Hy het ook verwys na die lae betalingsvlakke wat ‘n invloed op die metro se inkomste het.
Swak finansiële bestuursbesluite en korrupsie het reeds voor die Covid-19-pandemie in die metro voorgekom en die finansiële krisis waarin die metro verkeer, kan nie net voor die deur van Covid-19 gelê word nie.
Die Gauteng-provinsie sal moet toetree deur oplossings te soek soos hulp van die nasionale ramphulpfonds waarvoor die Ekurhuleni-metroraad reeds aansoek gedoen het. Daar sal egter maatreëls in plek gestel moet word om te verhinder dat die ekstra fondse nie in die bodemlose put van korrupsie en wanbestuur verdwyn nie.
Die finale begroting sal eers op 25 Junie voor die raad dien en die VF Plus sal seker maak dat die besluite wat ten opsigte van die begroting gemaak word, regverdig is, veral inaggenome die huidige ekonomiese insinking wat die provinsie beleef weens die Covid-19-pandemie.
‘n Munisipale begroting het 'n direkte invloed op elke inwoner en daarom kan dit nie ligtelik opgeneem word nie, veral nie te midde van die onsekere tye wat elke inwoner in die gesig staar nie.
Die VF Plus sal volgehoue druk op die metroraad plaas om te verhinder dat die finansiële krisis ‘n bykomende las plaas op belastingbetalers wat reeds noustrop trek.
Kontaknommer: 072 217 1951