Die onvermoë van die polisie in Carletonville om inwoners van Welverdiend te beskerm, lei tot ‘n toename in misdaad in die gebied.
‘n Inwoner van Welverdiend, mnr. Rian Schoeman (58) was Saterdagoggend vroeg 'n slagoffer toe booswigte by sy huis ingebreek en hom aangerand het. Hy is ook van sy selfoon en ander besittings beroof waarna die inbrekers gevlug het. Hy kon daarin slaag om met sy hande agter sy rug vasgebind, hulp by sy bure te gaan soek.
Twee dae later is daar by ‘n ander huis in dieselfde omgewing ingebreek en inwoners aangerand en beroof.
Baie mense kan nie privaat-sekuriteitsmaatskappye bekostig nie en is suiwer op die beskerming van die polisie aangewese.
Die VF Plus gaan die polisie in Carletonville versoek om meer sigbaar te wees in veral gebiede waar misdaad hoogty vier. Patrollies moenie net as afskrikmiddel vir misdadigers dien nie, maar ook inwoners se veiligheid verseker.
Afgevaardigdes van die VF Plus het mnr. Schoeman besoek om hul simpatie te betuig en hulp aan te bied.
Die VF Plus sal onverpoos druk op die owerhede plaas om die inwoners van Welverdiend en omliggende gemeenskappe te beskerm.
Navrae: 082 671 2302