Die Emfuleni-plaaslike munisipaliteit (Vereeniging, Vanderbijlpark, Sebokeng, Vaal Oewer en Evaton) het desondanks sy benarde finansiële situasie ‘n begroting van R6.2 miljard vir die 2020/21-finansiële jaar goedgekeur. Die begroting is nie behoorlik befonds nie en ook nie in lyn met die geïntegreerde-ontwikkelingsplan nie.
Dit is kommerwekkend dat die aangestelde administrateur van Emfuleni, mnr. Willi Billa, nie ingegryp het nie om toe te sien dat die munisipaliteit, wat min of geen dienste aan sy inwoners bied, ‘n meer realistiese begroting aan die raad voorlê.
Die VF Plus het sterk beswaar aangeteken teen die begroting en het beklemtoon dat die munisipaliteit gedurende die Covid-19-inperking eerder belastingvoordele aan inwoners moet bied en nie meer moet belas nie.
Tariewe is soos volg verhoog:
Elektrisiteit 6.22%
Water – 6.6%
Eiendomsbelasting – 4.5%
Vullisverwydering – 4.6%
Sanitasie – 4.5%
Die wanadministrasie van Emfuleni word tekens beklemtoon deur grootmaat-diensverskaffers soos Eskom en Rand Water wat daagliks dreig om elektrisiteit en watertoevoer aan die munisipaliteit te stop of te verminder. Eskom het in April vanjaar sy laaste betaling van Emfuleni ontvang.
Die getroue belastingbetalers van Emfuleni is weereens die slagoffer van ‘n munisipaliteit wat wanbestuur word.
Die VF Plus sal onverpoos voortgaan om in elke raadsvergadering die raad se foute en tekortkominge uit te wys in die beste belang van alle belastingbetalers.
Navrae: 076 616 2124